Was Paulus meer konserwatief as Petrus? ‘n Uitleg van 1 Timoteus 2:8

Was Paulus meer konserwatief as Petrus? ‘n Uitleg van 1 Timoteus 2:8 – Kobus Kok

1 Timoteus 2:11 en 12: Ek vra interessantheidshalwe: Het Paulus nie hier teenstrydig met die genade wat hy so baie verkondig het,opgetree nie? Is sy standpunt nie hier “wetties” nie? Dan ook nog: Hoekom het hy nog altyd net “Die Broers aangespreek? Dis vir my vreemd dat hy Petrus aanspreek oor sy Optrede oor die ou tradisie maar hy doen dit ook? Ek is ‘n ywerige Bybelleser en waarlik gelowig [70jr oud.} Sou graag u opinie wou hoor? Sterkte en seen.

Antwoord:

Was Paulus meer konserwatief as Petrus? ‘n Uitleg van 1 Tim 2:8

Op sommige plekke wil dit voorkom of Paulus meer konserwatief was as Petrus! Dieselfde Petrus teen wie Paulus homself teen ongeveer 48 n.C. openlik verset het omdat Petrus homself onttrek het van die heiden Christene in Antiogië toe lede van die moederkerk in Jerusalem wat nog streng aan die Joodse gebruike vasgehou het, daar aangekom het (lees Galasiërs 2:11-14). In die vroeë geskrifte van Paulus, te wete Galasiërs 3:28 en 1 Korintiërs 12:13, en latere geskrifte soos Kolossense 3:11 lees ons hoe Paulus dit duidelik maak dat daar nie onderskeid gemaak word tussen mense nie. Of jy nou ‘n Griek of Heiden, slaaf of vry, man of vrou is maak nie saak nie omdat almal in Christus gelyk is. Dit was die revolusionêre boodskap wat saam met die evangelie verkondig is wat Paulus van Christus ontvang het (Galasiërs 1:11). In Galasiërs 3:28 lees ons: 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één”. In die antieke tyd was mans baas. Dit was grootliks ‘n paternalistiese sisteem waarin mense hulle plek geken het. Vrouens se plek was by die huis en het in ‘n ondergeskikte posisie teenoor die man verkeer. Slawe en eienaars het ook nie met mekaar op sosiale vlak verkeer nie. Daar was streng onderskeid tussen verskillende groepe en eervolle mense het nie die grense oortree nie. Die boodskap van die evangelie was revolusionêr van aard en het teen die grein van die wêreld se manier van doen ingegaan. Aanvanklik was dit vir die eerste Christene baie bevrydend dat man en vrou, slaaf en vry, heiden en Jood as een voor God kon verskyn.

Volgens navorsing wil dit egter voorkom of dit soms probleme veroorsaak het. Sommige vroue het hulle grense so oortree dat dit eintlik skande gebring het oor die vroeë Christene. In die antieke tyd moes vroue hoofbedekkings dra. Vroue wat in die publiek sonder ‘n hoofbedekking verskyn het was meestal prostitute. In die konteks van die huis kon die vrou egter haar hoofbedekking afhaal. Die vroeë Christene het in huise bymekaar gekom. Tegnies was dit dus private ruimte en vroue kon hulle hoofbedekkings afhaal. Met tyd het die huiskerke nie meer net private ruimte gebly nie en eintlik die karakter van ‘n publieke ruimte gekry. Nou het dit ‘n etiese vraag geword. Moet vroue hoofbedekkings dra of nie? Indien mense van buite die kerklike gemeenskap dit sien kan hulle vinnig verkeerde afleidings maak en dink dat die Christene die grense van moraliteit en etiek verbreek. Paulus was ook sensitief daarvoor. Die laaste ding wat hy wou doen was dat Christene deur hulle lewenswyse aanstoot moes gee aan mense. Daarom het hulle op ‘n stadium besluit dat vroue eerder maar hoofbedekkings in die huiskerk moet dra omdat die huiskerke publieke ruimte geword het. In 1 Korintiërs 11:5 sien ons duidelik hoe die kwessie van eer en skaamte ter sprake kom: “5Maar elke vrou wat bid of profeteer sonder iets op haar kop, doen haar hoof, haar man, oneer aan, want dan is sy net soos ‘n vrou wie se hare afgeskeer is”. Paulus moedig hier sy gemeentelede aan om sensitief te wees vir die kulturele waardes van hulle tyd, eerder as om aanstoot te gee en oneer oor hulle te bring. In 1 Timoteus 2:8, wat ons die pastorale briewe noem en waarskynlik laat in die geskiedenis van die vroegste kerk van die eerste eeu geskryf is, sien ons dat daar nog steeds ‘n oproep gemaak word vir kulturele sensitiwiteit: 9Van die vroue wil ek hê dat hulle ook in hulle kleredrag waardig, beskeie en ingetoë moet wees. Hulle versiering moenie haarkapsels en goud of pêrels of duur klere wees nie, 10maar goeie werke, soos dit vroue betaam wat openlik bely dat hulle God dien. 11’n Vrou moet in die erediens stil en onderdanig wees en haar laat leer. 12Ek laat haar nie toe om daar onderrig te gee of oor die man gesag uit te oefen nie; sy moet stil wees. 13Adam is immers eerste gemaak, Eva daarna. 14Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het. 15Maar sy sal haar redding vind in moederskap, as sy maar volhard in geloof, liefde en ‘n heilige lewe, en daarby beskeie bly.”

In die antieke tyd is geglo dat ‘n eervolle vrou beskeie en ingetoë moet wees. Aggressiewe vroue was met agterdog bejeën en het grense oortree. Dit mag dalk gebeur het dat sommige vroue die nuwe vryheid wat hulle in Christus beleef het volgens sommige te ver gevat het. Sulke vrouens het dan oneer oor hulle mans en oor die vroeë Christene as groep gebring. Daarteen het die vroeë Christene, en veral Paulus, gewaak.

Die implikasie daarvan is dat ons vandag ook sensitief moet wees vir ons eie kulturele konteks. Indien mens vandag sendingwerk in Mosambiek gaan doen, moet mens byvoorbeeld in gedagte hou dat eervolle vrouens in daardie land altyd rokke dra. Indien ons wat uit Suid Afrika kom daar sendingwerk doen, sal ons vroue natuurlikerwyse dikwels kort broeke of langbroeke dra. Vir die mense van Mosambiek is dit oneervol en hulle sal nie met die Christene wil assosieer nie. Die evangelie kan alleen met integriteit daar gebring word indien mens in daardie kultuur met sensitiwiteit en integriteit optree. Net so het dit in Paulus se tyd gebeur. Paulus was nie konserwatief nie, net sensitief.

 

Skrywer: Dr. Kobus Kok