Was Paulus ‘n apostel?- Francois Malan

As PAULUS n apostel was,was daar tog 13 apostels. Is it korrek?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord apostel in die Nuwe Testament kom van die Griekse woord apostéllō wat beteken om iemand te stuur of om ’n boodskap te stuur.’ Die woord apóstolos beteken ’n gestuurde of ‘n boodskapper.

In Handelinge 22:21vertel Paulus dat die Here Jesus aan hom in die tempel van Jerusalem verskyn het en gesê het: ‘Gaan, want Ek wil jou ver weg stuur (apostéllō) na die heidene.’ In Handelinge 26:17-18 vertel Paulus aan koning Agrippa en die hele saal vol mense in Sesarea van sy roeping toe die Here Jesus aan hom op die pad na Damaskus verskyn het (vgl. Handelinge 9:1-6). Hy was op pad om die Christene in Damaskus te gaan arresteer. Op pad het  Jesus aan hom op die middag verskyn in ’n lig uit die hemel wat skerper was as die son. Die Here het vir hom gesê: ‘Ek sal jou red uit jou volk en van die heidene na wie Ek jou stuur (apostéllō) om hulle oë op te maak, sodat hulle van die duisternis na die lig kan kom, en van die mag van die Satan na God, en ook dat hulle deur geloof in My vergewing van sonde, asook ’n erfdeel saam met die geheiligdes, kan ontvang. Om hierdie rede, koning Agrippa, was ek nie aan die hemelse visioen ongehoorsaam nie…’ 

In sy briewe aan die gemeentes  begin Paulus altyd sy brief ‘Paulus, ’n dienskneg van Christus Jesus, ’n geroepe apostel (apóstolos), afgesonder vir die evangelie van God (Romeine 1:1). ‘Paulus, deur die wil van God ’n geroepe apostel (apóstolos) van Christus Jesus..’(1 Korinthiërs 1:1). ‘Paulus, ’n apostel (apóstolos) van Christus Jesus deur die wil van God…’ (2 Korinthiërs 1:1). ‘Paulus, ’n apostel – nie op gesag van mense of deur ’n mens nie, maar wel deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het…’  (Galasiërs 1:1). ‘Paulus, ‘n apostel (apóstolos) van Christus Jesus deur die wil van God…’  (Efesiërs 1:1), ensovoorts.

In Handelinge 14:14 word Barnabas ook ’n apostel (apóstolos) genoem saam met Paulus, al was Barnabas nie een van die twaalf nie.

Volgens Lukas 6:13 het Jesus, na ’n nag van gebed op die berg, sy dissipels (volgelinge) nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, en Hy het hulle apostels (apostóloi) genoem. Een van die twaalf was Judas Iskariot, wat Hom sou verraai (Lukas 6:16). Na Judas se dood, en na Jesus se dood en opstanding en hemelvaart het Petrus die 120 broers verwys na Psalm 109:8 ‘Laat ’n ander sy amp as opsiener oorneem. In Judas se plek het hulle twee manne voorgestel, en in gebed  die Here gevra om een aan te wys wat die Here gekies het om die taak  van hierdie diens van apostel (apóstolos) oor te neem waarvan Judas afvallig geraak het. Toe het hulle geloot en die lot het op Mattias geval. Hy is daarop by die elftal apostels (apostóloi) gevoeg.

Openbaring 21:12-14 verwys na die Nuwe Jerusalem se 12 poorte waarop die name van die twaalf stamme van Israel op gegraveer is, en die twaalf fondamente van die stadsmuur met die name van die twaalf apostels (apostóloi) van die Lam op gegraveer.

Die Openbaring aan Johannes is egter ’n boek van simbole. Hier word die name van die twaalf stamme van Israel gebruik om aan te toon dat al die gelowiges uit die Ou Testament deel sal wees van die Nuwe Jerusalem. Die Nuwe Jerusalem is egter ’n simbool van die ewige lewe saam met God. So is die twaalf name van apostels ’n simbool vir al die gelowiges van die Nuwe Testament wat in die Lam van God, sy Seun Jesus Christus glo, wat deel het aan die ewige lewe saam met God. Want Jesus, as God wat ons menslike natuur aangeneem het, het gesterf vir die sonde van die ganse mensdom van die Ou Testament en van die Nuwe Testament (vgl. Johannes 1:1-5,9-14,29,36). En elkeen wat in Jesus glo word deel van die ewige lewe saam met God. (vgl. Johannes 3:16).

Skrywer:  Prof Francois Malan