Wat gebeur in die debat oor dieselfde geslagverhoudings? – Jan van der Watt

Ek wil graag vanuit twee hoeke antwoord, want die saak het natuurlik baie kante: As daar enkele bladsye is wat ek graag uit die Bybel sou wou haal is dit juis hierdie bladsye (natuurlik as ek kon, maar ek kan nie. Juis daarom moet dit ernstig geneem word). Dit het al soveel verdriet en ongeluk en vir mense veroorsaak dat dit my laat terugdeins. Van die aangenaamste mense wat ek al ontmoet het, is gay en om aan hulle die idee te gee dat daar iets met hulle ‘verkeerd’ is, is vir my menslik gesproke baie moeilik. Daarom as dit by die reëlings van die staat kom, is my persoonlike opinie dat die verhouding tussen sulke mense behoorlik deur die staat gereel moet word (die staat is nie die kerk nie en die omgekeerde is ook nie waar nie – die staat moet al sy burgers dien en sorg vir behoorlike orde). As mense saam wil bly, ‘n permanente verhouding wil aangaan, waarom kan die staat dit nie vir hulle behoorlik reël nie? Inteendeel, ek dink die staat behoort dit te doen in ‘n land waar menseregte voorgestaan word. Mens kan dit selfs wat my betref huwelik noem, want huwelik is nie net ‘n Christelike term nie en behoort ook nie net aan Christene nie. Dit is die realiteit waarin ons in ons land woon – menseregte en nie godsdienstige oortuigings nie, bepaal die gedrag van die staat. Daar moet egter nie voorgegee word dat dit die hele verhaal is nie.

Daar is ook ‘n ander sy van die debat, wat maak dat die Christelike kerke wat 80-90% van die Christene wêreldwyd vandag uitmaak nie homoseksualiteit as ‘normaal’ erken nie. Die vertrekpunt gaan daarom dat die Christendom sy norme en waardes aan die Woord van God koppel. Ons dink nie ons eie idees uit oor wat reg of verkeerd is nie, maar soek die wil van God daaroor. En dit is nou waar die probleem lê: hoe moet ons die Bybel lees? Daarom lees jy ook die hele tyd in die koerante dat die dominees baklei oor wat die Bybel sê. Inderwaarheid is die groot vraag nie of mense van dieselfde geslag nie aanvaar moet word nie, maar oor wat die standpunt vir die verstaan van die Bybel vir ons vandag gaan hê. In ’n sekere sin gaan die debat meer om die vraag watter rol die Bybel in die lewe van die gelowige moet speel en hoe.

Ek gaan dit baie kortliks en oorsigtelik hier uiteensit om so te probeer om die implikasies van die debat so bietjie duideliker te maak. As mens die tekste in die Bybel wat oor die saak van dieselfdegeslagverhoudings lees, is almal negatief oor seksuele verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Daaroor is daar min verskil, want dit staan duidelik so daar. Waar die verskil inkom is hoe ons dit vir ons vandag moet verstaan en dan is die argument dat ons appels met appels moet vergelyk. Die pro-gay argument sê dat die homoseksualiteit van die Bybel nie dieselfde is as vandag nie en daarom kan ons die tekste van die Bybel nie gebruik nie, want dan vergelyk ons appels met pere. Die anti-gay argument sê dat mens dit wel kan gebruik, al is dit nie presies dieselfde nie – daar moet mooi oorweeg word wat die beginsel is wat die gedeelte wil oordra.

Die probleem waarom die dominees so ernstig is oor die saak is omdat as mens die eerste (pro-gay) standpunt kies, beteken dit dat die gevaar wesentlik is dat die Bybel as ‘n boek gesien word wat nie meer vir ons vandag regtig iets het om te sê nie, want alles verskil tog tussen destyds en vandag – ons leef anders, trou anders, ens. Dit beteken dus dat die invloed van die Bybel gerelativeer word tot dinge wat presies dieselfde is tussen destyds en vandag – en op etiese gebied is daar bittermin. Byvoorbeeld, neem die probleem van alkohol wat misbruik word: daar kan eenvoudig geargumenteer word dat die mense destyds feitlik altyd in groepe in die openbaar (by die bacchusfeeste) of by groepsgeleenthede soos etes gedrink het. Ons ken nie meer sulke feeste nie. Dit beteken dat die Bybel niks oor die saak vir vandag sê nie, want die situasies verskil te veel. Dieselfde met porneia (die Griekse woord vir onsedelikheid) – dit het dikwels in tempels plaasgevind of ook gedurende die kuiertyd (symposia) na ‘n banket of ete. Ons het nie meer sulke tempels en het ook nie meer dieselfde soort symposia as destyds nie, met ander woorde, die Bybel verskil te veel en kan ons dus ook nie meer vandag met die saak van onsedelikheid help nie; en so kan mens van een saak na die ander aangaan. Die Bybelse konteks verskil eenvoudig van vandag se konteks wat beteken dat as mens presiese gelykheid tussen die sitausie van die Bybel en vandag as kriterium gebruik, die Bybel eties nie meer van toepassing kan wees nie.

Daar is ook ’n ander benadering. In die verlede was die algemene standpunt oor die manier waarop die Bybel toegepas word, gebaseer op ‘analogie’, met ander woorde, dinge hoef nie presies dieselfde te wees nie – daar gaan verskille wees, maar daar gaan ook ooreenkomste wees. Die twee fasette moet goed onderskei word. Die verskille word in ag geneem, maar daar word veral gevra na die basiese ooreenkoms of beginsel wat die gedeelte wil oordra, met ander woorde, wat is die boodskap wat die gedeelte wil oordra – veral daarin word belanggestel. Bv. as Jesus vir sy 12 dissipels sê hulle moet sy boodskap verkondig, kan daar met die gevolg gesê word: ons vandag is nie die 12 dissipels nie, so ons hoef nie te verkondig nie (pro-gay argument). Of ons kan sê: ons is nie die twaalf nie, maar die boodskap geld tog vir ons ook, want ons volg Jesus net soos hulle en op grond van hierdie ooreenkoms geld die beginsel om te verkondig ook vir ons. T.o.v. die gays sou dit beteken dat hoewel daar verskille tussen destyds en vandag is, die afkeur in die Bybeltekse dat mense van dieselfde geslag  nie seks moet beoefen nie, vir vandag ook van toepassing behoort te wees.

Op hierdie punt begin opinies sterk uiteenloop en wat ook al in die gesprekke gaan gebeur, die gevolge gaan ingrypend wees.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt