Wat het God my gegee om te lewe en om Hom te dien? – Francois Malan

Willie vra:

Kan u my help om 2 Petrus 1 beter te verstaan asseblief?

“Sy Goddelike krag het ons alles gegee wat ons nodig het om te leef en om Hom te dien “ Om Hom te dien kan seker ook beteken “ Om naby aan Hom te leef “

My vraag is: wat het God ons gegee om so te kan leef ? Is dit :”Heerlikheid en Krag” Dit is hier waar ek sukkel om te verstaan en my vraag is wat presies beteken dit, en op hoe n manier het ek dit – hoe manifesteer dit in my lewe ?

Die rede vir my vraag is dat ek nie heeltemal seker is dat ek dit het nie , hoe dit ook al mag wees. Want in my daaglikse lewe sukkel ek verskriklik met ongeduld, kort humeur, en dan erge moedeloosheid en dit sê dan vir my ek is op my eie . Ek vra u nie om aandag te gee aan dit wat ek ervaar nie . Ek vra u om my te help om te verstaan wat die begrippe “ Hy het my alles gegee wat ek nodig het om te leef en om Hom te dien” en dan ook die “ heerlikheid en krag” wat God ons gee – dus hoe help Hy my , hoe sal ek dit weet ?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die teks sê dat God en Jesus ons Here ons deur sy Goddelike krag reeds alles gegee het wat ons nodig het vir ’n toegewyde lewe deurdat ons Hom ken wat ons deur sy majesteit en goddelike krag geroep het.

Wat het God ons gegee om so te kan leef? – Hy het Homself aan ons gegee!

Op hoe ’n manier het ek dit? – Dit is nie ’n dit nie, maar God en Jesus ons Here self as persone (2 Petr 1:2). Die manier waarop Hy dit gegee het, is deurdat Hy Hom aan my geopenbaar het sodat ek Hom kan ken as my Here en my God, soos Tomas in Jn 20:28 aan die opgestane Jesus gesê het.

Vir duidelikheid hieroor sê die Johannes-Evangelie eerstens dat Jesus die Woord van God is (Jn 1:1-3), Hy is die openbaarder van God, die manier waarop God met ons kommunikeer. Verder het Jesus belowe dat Hy die Vader sal vra om die Heilige Gees vir ons te stuur om by ons te bly en in ons te wees (Jn 14:17), maar verder in Jn 14:23 sê Jesus ook: As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na Hom toe kom en by hom woon. Die inwoning in ons van die Vader en die Seun deur die Heilige Gees noem 2 Petrus 1:4 om deel te kry aan die Goddelike natuur. Van die Heilige Gees sê Jesus in Jn 16:8 dat Hy die wêreld sal oortuig van sonde en van geregtigheid (nl. dat Jesus die verhouding tussen ons en God reg gemaak het) en van oordeel (as ons nie in Jesus glo nie). Jn 3:36 sê: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal dit nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hom. Deur die werking van die Heilige Gees in ons, glo ons die woord wat ons van Jesus se verlossing vertel, deurdat Hy wat self God is (Jn 1:1) die sonde van die wêreld op Hom geneem het en die straf en smet van ons sonde gedra het aan die kruis as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Jn 1:29).

Hoe manifesteer dit in my lewe? – 2 Petrus 1:5-7 noem ’n ketting met agt skakels om die weg van gehoorsaamheid te verduidelik: geloof (in Jesus Christus) wat ons ontvang het deur die werking van die Heilige Gees (vgl 2 Pt 1:1) – deugsaamheid wat uit die geloof voortvloei (die regte verhouding teenoor God) – kennis (persoonlike verhouding met God deur gebed en luister na sy wooed) – wat selfbeheersing tot stand bring as vrug van die werking van die Heilige Gees (Gl 5:22-23; deur my verbondenheid aan die wil van God en bereidheid tot diens aan ander mense, vgl. Mk 10:45 ) – volharding (deur weerstand te bied teen alle versoekings en aanvegtinge, vgl. Hebr 12:4 ) – godsvrug (wat uit die geloof en gehoorsaamheid aan die Here se woord voortkom, vgl. die 9 aspekte van Gl 5:22-23) – liefde onder mekaar en liefde tot alle mense (vgl. Jesus se nuwe gebod in Jn 13:34).

In 2 Kor 3:18 som Paulus dit alles op met die daaglikse werk van die Heilige Gees aan ons om ons te verander om aan die beeld van Christus gelyk te word – en sy beeld is die van ’n dienskneg wat die voete was van sy dissipels as ’n voorbeeld vir ons om mekaar se voete te was = nederige diens aan mekaar (Jn 13:14-15).

In my daaglikse lewe sukkel ek verskriklik met ongeduld, kort humeur, en dan erge moedeloosheid – gaan lees weer in Gl 5:22-23 die vrug van die werk van die Heilige Gees waarmee Hy met elke gelowige daagliks besig is en bid dat die Here jou sal verlos van die dinge waarmee jy sukkel. Laat dit in sy hande om jou te verander om in gehoorsaamheid aan Hom, te lewe soos Hy wil hê dat sy liefde deur jou sal werk om alles te verdra (1 Kor 13:7).

Hoe help Hy my, hoe sal ek dit weet ? – Hy help my deur op Hom te vertrou, en ek weet dit is deur my geloof  in Hom dat Hy my die krag daarvoor sal gee. Uit myself kom ek nie daar uit nie, maar 2 Petr 1:8 sê dat ons met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter moet leer ken. Hy is ons Verlosser.  Wag op Hom in vertroue dat Hy jou sal verander om in Hom te bly en Hy in jou om baie vrug te dra (Jn 15:5-8).

Die heerlikheid wat God aan ons gee, verwys ook na die heerlikheid van Jesus. Volgens Jn 12:23-26 is Jesus se sterwe aan die kruis vir die sonde van die ganse wêreld sy verheerlikking, want dit die grootste liefdesoffer van God aan die wêreld (vgl Jn 3:16).  Wie sy lewe liefhet, verloor dit; maar wie sy lewe in hierdie wêreld as gering ag, sal dit vir die ewige lewe behou (Jn 12:25). Die heerlikheid wat God aan ons gee is ’n lewe van diens aan ander (vgl Mt 25:34-40).

Skrywer:  Prof Francois Malan