Wat het van Josef geword?

Wat het van Josef geword? – Kobus Kok

Benita vra:

Ek wil graag weet wat van Josef geword het aangesien daar later net nie meer oor hom geskryf word nie, slegs oor Maria. Is daar enige inligting oor hom of sy dood bekend?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

jesusbaba

 

Josef en die baba Jesus deur Guido Reni (1635) (http://en.wikipedia.org/wiki/Saint_Joseph )

 

In die evangelies en in die kerklike tradisie word Josef beskryf as die pa van Jesus, alhoewel hy nie die biologiese pa van Jesus is nie. Josef was ʼn houtwerker (“tektoon” (τέκτων). Sommige geleerdes is van mening dat skrynwerkers die lae klas werkers verteenwoordig het en ander geleerdes wys op Rabbiniese geskrifte waar ʼn skrynwerker as ʼn geleerde persoon en spesialis op sy gebied uitgebeeld word.

In die evangelie van Markus is dit interessant op daarop te let dat Jesus in Markus 6:3 die seun van Maria genoem word. Gewoonlik word ʼn man se identiteit gekoppel aan sy vader. Matteus en Lukas maak wel baie van Jesus se aardse afkoms en wys dat dit terug gaan na die groot Koning Dawid. Matteus en Lukas is dan ook die enigste evangelies wat vertel van Jesus se geboorte en dit is hier waar ons vir Josef ook raakloop. Volgens Lukas woon Josef in Nasaret en vertrek na Bethlehem na aanleiding van die vereiste wat aan hom gestel was deur die Romeinse regering wat op daardie stadium ʼn volkstelling gehou het. In die evangelie volgens Matteus woon Josef egter in Bethlehem, die belangrike stad van koning Dawid waar Jesus ook gebore word. Kort daarna trek hulle egter na Nasaret. In Lukas se weergawe het hulle egter in Bethlehem gebly tot kort voor koning Herodes se bloedvergietings waar hy alle baba seuntjies laat doodmaak het uit vrees vir die nuwe koning wat sou kom. Hiervolgens het Josef sy gesin na Egipte geneem en so ʼn ruk daarna, toe dit veiliger was, terug gebring na Nasaret en daar gaan woon.

Ongelukkig gee die evangelies vir ons bitter min inligting van Josef. Die laaste keer waar Josef in die evangelies te sien is (Lukas), is toe Jesus omtrent twaalf jaar oud was en die gesin in Jerusalem was. Daar het Jesus met die skrifgeleerdes in die tempel geredeneer terwyl sy ouers hartstogtelik na hom gesoek het. Daarna sien ons die karakter Josef nie meer nie. Sommige geleerdes is van mening dat Josef alreeds baie oud was toe hy met Maria getrou het en dat hy gesterf het voor Jesus met sy publieke bediening begin het. Hierdie geleerdes wys daarop dat Maria, die moeder van Jesus as ʼn weduwee uitgebeeld word. So lees ons in Johannes 19:26-27 dat Maria by die kruis teenwoordig was. Net voor Jesus gesterf het, het hy vir Johannes, die geliefde dissipel gevra om sy ma op te pas. Geleerdes argumenteer dat indien Josef nog geleef het, sou Josef teenwoordig gewees het by die kruis, en sou Jesus nie vir Johannes gesê het om sy ma op te pas nie. Volgens die beskouing was Maria dus ʼn weduwee teen die tyd dat Jesus sy publieke bediening verrig het. ʼn Verdere argument wat ter versterking hiervan dien is dat die pa ʼn belangrike rol in die begrafnis van sy seun sou speel. Josef is egter geensins betrokke by die begrafnis van Jesus nie. Alle Bybelse inligting dui dus daarop dat Josef, die pa van Jesus nie meer geleef het ten tye van Jesus se openbare bediening nie. Dit word ook duidelik uit Paulus se geskrifte, wat van die vroegste dokumente in die Nuwe Testament is (50-64 nC), en dus die naaste terug gaan na die tyd van Jesus, (die evangelies is eers rondom 70 nC geskryf) geen verwysing het na Josef nie.

Die interessante is verder dat die evangelies daarop wys dat Jesus broers en susters gehad het. Ook in Paulus lees ons dat hy kontak gehad het met Jakobus, ʼn broer van Jesus. Dit is miskien ʼn meer interessante vraag. Wat het van Jesus se broers en susters geword…

Tussen die tweede en die vyfde eeue na Christus het verskeie geskrifte ontstaan waarin daar oor Josef geskryf is. Ons moet egter in gedagte hou dat die geskrifte baie lank na die historiese gebeure plaasgevind het, tot soveel as 120 jaar daarna. Dit maak die tekste minder histories akkuraat en het dikwels ʼn ander teologiese rede en agtergrond waarom dit geskryf is. In die apokriewe boek die proto-evangelie van Jakobus lees ons dat Josef baie oud was en dat hy voorheen getroud was. Die broers en susters van Jesus word dan beskryf as dat hulle kinders van Josef was uit ʼn vorige huwelik. Die boek het egter ʼn teologiese agenda, naamlik dat dit wil argumenteer dat Maria ʼn maagd was tot haar dood, en daarom moes hulle op een of ander wyse verklaar hoekom die evangelies en Paulus praat van Jesus se broers en susters. Die oplossing was dan om gewoon te sê dat Josef al baie oud was en voorheen getroud was en kinders gehad het voor hy met Maria getrou het. In die vyfde eeu is nog ʼn boek geskryf waarin die geskiedenis van Josef die skrynwerker vertel word. Dieselfde lyn word opgetel, naamlik dat Josef baie oud was (90) en dat hy reeds getroud was en kinders gehad het en met die twaalfjarige Maria getrou het in opdrag van die Heilige Gees wat ʼn kind in haar verwek het. Volgens die boek is Josef dood op die ouderdom 111. Dit beteken dat hulle ook van mening was dat Josef dood is voor Jesus sy publieke bediening begin het.

 

Outeur: Dr Kobus Kok