Wat is die definisie van ‘n dissipel?

The Church exists to glorify God, to edify believers and to extend the gospel throughout all the nations and the languages of the world — Thomas Murphy, Pastoral Theology

Wat is die definisie van ‘n dissipel?

Daar word baie oor dissipels en dissipelskap geskryf, maar as jy teoloë vra wat ‘n dissipel is, kry jy geen eenstemmigheid nie. Jesus het vir ons ‘n beskrywing gegee van wat ‘n dissipel moet wees. Op ‘n paar plekke sê Hy: As jy my dissipel wil wees, moet jy … Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde:

 

  • Jy moet die Here bo alles liefhê

As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie, tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe (Lukas 14:25 – 26).

  • Leef in die lig van God se woord

As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak (Johannes 8:31 – 32).

  • Neem jou kruis op

As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg (Lukas 9:23).

Jesus herhaal hierdie stelling by ‘n paar geleenthede. Let op die vooruitgang van die drie elemente: verloën … kruis opneem … volg.

  • Aanvaar die wil van die Vader

Die frase om jou kruis op te neem (Lukas 9:23) beteken dat ons die Vader se wil aanvaar – sonder voorwaardes. Dissipels aanvaar die wil van die Vader net soos Jesus dit gedoen het.

  • Gehoorsaam Jesus

Om Jesus te volg (Lukas 9:23), beteken dat ons op sy pad loop. Dit beteken ons is gehoorsaam aan die Een wat ons volg. Ons moet Hom gehoorsaam al is dit ongemaklik en kos dit ons iets.

  • Jy moet jou medegelowiges liefhê soos Jesus hulle liefhet.

Ek gee aan julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal die wêreld almal weet dat julle dissipels van My is (Johannes 13:34 – 35).

Liefde vir hulle medegelowiges is ‘n kenmerk van dissipels.

  • Sluit aan by Jesus se sending

My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra, en my dissipels is … Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra (Johannes 15:8 en16).

Een van die kenmerke van dissipels is dat hulle by Hom in sy sending om die wêreld te verlos deur dissipels te maak, aansluit.

Leraars kan oor hierdie teksverse preek, maar dit sal geen verskil maak nie. Kerkleiers moet in die gemeente ‘n omgewing skep – akkurate inligting plus ondervindings – sodat mense die geleenthede het om dissipels te word.