Wat is die kerk? Is die kerk regverdig en konsekwent?

It does not matter how great the pressure is, only where the pressure lies. Do not allow the pressure to come between you and the Lord – Hudson Taylor.

Wat is die kerk?  Is die kerk regverdig en konsekwent?

Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

Kerke moet regverdig en konsekwent wees. Klink logies. Maar kyk na Jesus.  Was Hy altyd regverdig en konsekwent soos ons dit verstaan? Hy gee voorkeur behandeling aan drie van sy twaalf dissipels; Hy genees net sommige mense; Hy voed nie elke honger skare nie; Hy stop in die middel van ‘n parade en nooi Homself om by Saggeus te gaan eet – hoekom Saggeus? Kyk na wat gebeur by die bad by Betesda (Johannes 5).

Daar is baie gestremdes – blindes, kreupeles en lammes –  maar Jesus loop na een man toe en genees hom – net vir hom. Jesus sê vir die ryk jongman dat hy van al sy besittings ontslae moet raak as Hy die ewige lewe wil verkry. Vir die misdadiger aan die kruis sê Hy: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees (Lukas 23:43). In Johannes lees ons dat Jesus ‘n man wat blind gebore is, genees. Net twee hoofstukke later laat Hy toe dat Lasarus sterf.

Oppas vir regverdigheid in die kerk. Regverdigheid word dikwels gebruik as ‘n dekmantel vir niks doen nie: As ek dit vir een doen, sal ek dit later vir almal moet doen. Wat sou Jesus hierop sê? “Nee jy kan nie. Ek het dit nie gedoen nie.”

Wat moet ons doen? Doen vir die een persoon wat jy wens jy vir almal sou kon gedoen het. Jy weet almal gaan nie dieselfde behandel word nie. Gemeentes wat altyd konsekwent optree se optrede kom in die pad van hulle bediening. Ons sien mense met werklike behoeftes wat weggewys word omdat die toekenning op daardie spesifieke lynitem uitgeput is.

Wat is die les wat ons moet leer? God se genade is net sigbaar as God se waarheid duidelik is. Volgende keer gaan ons kyk na die vraag: Maak ons dit moeilik vir mense om deel van die kerk te wees?