Wat is die mens! (1)

Wat is die mens! (1)

Wie uit die Bybel ‘n fyn uitgewerkte leer oor die mens probeer vind, sit ‘n vrugtelose soektog op tou. Nêrens kry ons in die Bybel dat die tema mens so aan die orde gestel word, dat klinkklare antwoorde op die vraag, “Wat is die mens?” gegee word nie. Selfs die bekende Psalm 8 wat hierdie spesifieke vraag in die Ou Vertaling (OAV) as opskrif het, is in die Nuwe Vertaling (NAV) vervang met die opskrif, “Lof aan die Skepper”. Op die oog af taamlik uiteenlopend! Maar wie tog die korrekte verband tussen hierdie twee opskrifte vind, het iets van die wesenlike van hierdie tema gesnap. Wie die raakvlak tussen God en mens binne die geopenbaarde grense van die Skrif geformuleer kry, het by ‘n Bybelse antropologie uitgekom.

Dit is nodig dat ons sal raaksien dat die Bybel nie analities en staties met die mens omgaan as sou die mens ‘n kliniese objek vir teologiese dissektering wees nie. Nee, ons hoor in die Bybel ‘n dinamiese, holistiese en veral ook die eksistensiële polsslag van die lewende mens in die praktyk. En in al hierdie aksente is die mens steeds mens voor God. Daarom is die beeld wat ons van God het nie ‘n iets, ‘n ding, wat ons besit nie, maar ons broederskap en susterskap met Christus en met mekaar. Binne hierdie bedding moet die kerk haar identiteit formuleer. Die mens word boonop nie in die Bybel anders as in die tyd voorgestel nie. Ons ontmoet hom of haar in konkrete situasies. Daar bestaan nie Übermenschen nie. Tyd het ‘n begin- en ‘n eindpunt; daar is genadetyd en daar is die oomblik(-ke) van waarheid in tyd. Maar hoe ons tyd nie moet verstaan nie, is om dit as ‘n eenvoudige reguitlyn voor te stel met opeenvolgende gebeurtenisse waarin nie net die mens nie, maar selfs God vasgevang word. Verstaan ons dit so, gaan ons ons besig hou met die spekulatiewe (en futiele) vrae van die oertoestand van die mens soos byvoorbeeld in John Milton se Paradise Lost (1667). Dan gaan ons die Ou en Nuwe Testament as chronologies opeenvolgend gebruik en die mens stuksgewys verklaar. En dit kan nie. Ons ken alleen maar die sondaarmens voor God en altyd in hierdie wêreld. ‘n Wêreld wat God geskep het deur die Gekruisigde, wat vir die sonde van die wêreld gesterf het en dit ook oorwin het. En in die verwagting van die finale herstel leef die mens nog altyd. Die vraag na die mens is dus die vraag na sy of haar verhoudings wat om heling (heil) roep. So het die groot Hervormers ons nog altyd geleer: keerkante van dieselfde munt is dus antropologie en soteriologie (Luther) of dan skepping en herskepping (Calvyn).

Dit is ironies dat die uitdrukking, “beeld van God”, die hart van die teologiese antropologie vorm, terwyl dit as uitdrukking in die Bybel nie naastenby daardie selfde gewig kry nie. Weliswaar speel dit die sentrale rol in die eerste skeppingsverhaal van Genesis, maar verder word dit nog net twee keer in die hele Ou Testament aangetref! Die Nuwe Testament werk egter meer dikwels met hierdie uitdrukking soos ons kan sien in tekste waar die mens meesal oordragtelik die beeld van God genoem word. Meer as een teoloog het dan ook al verklaar dat ons die beeld van God eintlik vanuit die Nuwe Testament moet verstaan ten einde reg aan die Christologie te laat geskied. Dit is ook korrek. Maar nou moet natuurlik net daarteen gewaak word dat hier nie ‘n klomp betekenisse van die Nuwe Testament se tekste af, in Genesis 1:26 ingedra word nie. Dan word dogmatiek verkeerdelik die sistematisering van klomp enersluidende Bybeltekste. Bepaal mens egter die werklike betekenis van Genesis 1:26-‘n aanduiding van die unieke verhouding van die mens voor God in die skepping-is dit wel moontlik om te sien hoedat daardie betekenis pertinent in die Nuwe Testament (en ook elders in die Bybel) hanteer word. En dit is ‘n sentrale boodskap in die Skrif.

Die hoeveelheid literatuur oor die uitdrukking, “beeld van God”, is oorweldigend. Boonop is dit ewe oorweldigend om te sien hoe uiteenlopend hierdie uitdrukking geïnterpreteer is. Sommige teoloë in die verlede wou dit selfs so maklik maak dat die beeld van God geleë sou wees in die mens se “regop posisie” terwyl die dier horisontaal is! ‘n Skerpsinnige opmerking is dus om te sê dat die kerk hierdie uitdrukking lank verstaan het as dit wat oorbly van die mens, nadat die dier uit die mens gehaal is! Die beeld van God is dan dit wat die mens anders as die dier maak. Maar dit kan tog nie! Die mens is sekerlik in sy of haar totaliteit te verstaan en nooit kan net iets van hom of haar die beeld van God wees nie! Die hele mens, met al sy of haar liggaamlike en geestelike kwaliteite, met sy of haar hele netwerk van verhoudinge, is as eerste uitgangspunt vir ons verstaan van die “beeld van God” in ag te neem.

Daarom is dit so hartseer dat die ou Griekse dualisme hom so knus tuisgemaak het in ons teologie. Die mens, het Plato lankal gesê, bestaan uit ‘n liggaam en ‘n siel. Die siel is geskape in ooreenstemming met die siel van die heelal, waaraan dit ook deelneem. Die stoflike egter, is verwerplik, minderwaardig en die verste verwyderd van hierdie edele en eintlike siel. Die siel is dus ook onsterflik en moet van hierdie stoflike kettings bevry word. (Om die mens drieledig as liggaam, siel en gees-1 Tessalonisense 5:23-te verklaar is net maar ‘n nuanseverskil van hierdie Griekse dualisme). Maar soos die soeke van die teologie om genoemde uitdrukking te verstaan, hom by tye gelei het om dit slegs as iets van die mens te sien, so is dit by geleentheid ook selfs verstaan as meer as die mens. Daar is gevoel dat al die werke van God, die skepping dus, in ‘n sekere sin die beeld van God is. Veral sekere natuurpsalms, is beweer, wys op God. Calvyn sê selfs dat die engele ook na die beeld van God geskape is. Maar dit kan nie. Die Bybel praat nie van die natuur in terme van die beeld van God nie. Oor ‘n derde vergissing met hierdie uitdrukking-dat net party mense die beeld van God is-handel ons in die volgende afdeling.

Daar is ‘n soort van herhaling in die uitdrukking: die OAV sê die mens is, beeld en gelykenis, terwyl die NAV weer sê, verteenwoordiger en beeld. Ten spyte van baie omvangryke argumente en redenasies en selfs spitsvondige moontlikhede wat heenstrek oor natuur en genade, oor indikatief en imperatief, oor herkoms en bestemming, alles uit hierdie woorde, is dit nieteenstaande duidelik dat ons in hierdie uitdrukking met één saak te doen het. Dit is ‘n tipiese Hebreeuse manier van skryfstyl om dieselfde saak in nuwe parallelle woorde (of sinne) te herhaal. Op ondubbelsinnige wyse word hier dus gesê dat die mens in ‘n unieke verhouding staan. Navorsers is dit ook eens dat die uitdrukking “verteenwoordiger en beeld” in Genesis 1:26, basies “poëtiese redundansie” is en dat eksegeties nie verskillende betekenisse hieruit gehaal mag word nie. Waarskynlik moet die koppelwoord, “en” (op voetspoor van die Septuaginta) die grootste blaam vir hierdie verkeerde eksegese dra. In die Hebreeus volg die woorde mekaar direk op, sonder ‘n koppelwoord, en geld dus as sinonieme. ‘n Gewone komma vertaal die gedagte dus goed.

Die taamlik populêre gedagte dat die beeldskap as skaduwee verstaan moet word (Van Selms), bevredig nie heeltemal nie. Die beeld-gedagte is in die Hebreeus net te substansieel om dit as skaduwee te verstaan. Daar is wel ‘n ander moontlikheid om hierdie uitdrukking te verstaan en die enkele én wesenlike daarvan te probeer begryp. Dit neig nòg in die rigting van ‘n eindideaal nòg van ‘n wesensooreenkoms met God. Dieselfde Hebreeuse woord wat hier gebruik word vir beeld (NAV) of gelykenis (OAV), kom ook in ll Konings 16:10,11 voor: “Nadat Agas ‘n altaar gesien het wat daar in Damaskus gestaan het, het hy aan die priester Urija ‘n afbeelding en ‘n model daarvan gestuur om dit getrou na te maak. Die priester Urija het die altaar gebou in ooreenstemming met koning Agas se aanwysings uit Damaskus.” “Beeld” is dus ‘n boumodel. Die mens word dus wesenlik geskep volgens die boumodel van God! Dit beteken nie dat die mens as boumodel Gód het nie, maar wel dat God oor ‘n model van die mens beskik! Die Urbild is dus nie God nie, maar die eintlike mens. (Esegiël 1:26 word soms saam hiermee gelees). Wolmarans was dus reg met sy aanvoeling dat hier ‘n synsuitspraak gemaak word, maar het toe die oplossing in die verkeerde rigting gesoek. Netso min as wat ‘n argitek se model wat ontwerp is, na sy of haar persoon lyk of dit ook is, so min lyk ons na of is ons God. Daarom is die mens eerder volgens God se ontwerp, geskape. En hier begin ‘n imperatief wel deurskemer: die mens moet wees soos hy of sy bedoel was.

Vanuit die filosofie is daar baie gepraat oor die mens as verhoudingswese. En etlike sulke verhoudings is ook opgenoem, selfs meer as wat die Bybel ken! Boonop is die verhoudings soms so verabsoluteer dat die mens selfs daarin opgelos word. So min as wat ons die substansie van die mens kan verabsoluteer, so min kan ons dit met die verhoudings doen. Uit die eerste skeppingsverhaal blyk daar waarskynlik drie verhoudings van menswees te wees: tot God, die medemens en die natuur. (H Berkhof oordeel dat die verhouding wat die mens tot sigself het, eerder ‘n buitebybelse aangeleentheid is omdat die Bybelse mens “eks-sisteer”, uit sigself tree. Die konsentrasie na binne op die sélf, oordeel hy, is ‘n “sieklike verskynsel” van die sondaarmens. ‘n Gesonde verhouding tot sigself is eerder die gevolg van die ander drie. Dink maar byvoorbeeld aan die Psalms waar die individu se krisis bestaan vanweë die ander drie verhoudings). Hierdie drie verhoudings behoort ook nooit van mekaar geskei te word nie. Eintlik is dit die mens wat uit hom-/haarself tree, en in ‘n ek:u verhouding te staan kom, en is organies dus een, enkele saak. Tot God, as die eerste verhouding, moet ons as agtergrond die God wat “gepraat het en dit was so, wat beveel het en dit was daar”, raaksien. Die mens is geskep om op God se woord te kan ant-woord. So vorm die hele Bybel ‘n getuienis van hierdie dialoog tussen God en mens. Die mens se verhouding tot die medemens, is duidelik in die meervoud in die teks, “man en vrou het Hy hulle geskape”. Vir hoe lank het die kerk nie opgehou lees by die komma na die mens, sonder om die res klaar te lees nie! Derdens hoor ons ook dat die natuur ter sprake gemaak word, wanneer ons lees dat die mens na die beeld van God geskape is, “sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip”. Kennelik ontvang die mens hiermee gekwalifiseerde bevoegdheid oor die res van die skepping.

Die fyn balans tussen substansie en relasie wanneer oor die beeld van God gepraat word, moet nie misgekyk word nie. Die een kan nie ten koste van die ander geïnterpreteer word nie. Interessant en dalk meer as toevallig, word daar verskillende voorsetsels gebruik in die twee Afrikaanse Bybelvertalings wanneer daar oor die beeld gepraat word. Die NAV verkies as die verteenwoordiger, beeld; die OAV verkies weer na die beeld, gelykenis. Met so tikkie verbeelding staan die twee moontlikhede tot mekaar soos is en word, vertrekpunt en eindpunt. Die feit dat die woord “beeld” ook in posisie uitskuif na die tweede in die NAV, dui vermoedelik op die voorrang van hierdie vertaling vir die mens as enkelvoud, verteenwoordiger en…. vertrekpunt. Maar die verskil is dogmaties ernstiger as wat dit op die oog mag lyk. Die NAV impliseer waarskynlik ‘n interpretasie in die lyn van Calvyn met ‘n duideliker aksent op die substansie van die beeldskap van die mens (en met die gevaar van ‘n wesensooreenkoms met God). Die OAV lees weer eerder beweging hier in naamlik waartoe die mens geskape is, en hoor mens dalk die gees van Luther hier spreek?

Dit is opvallend hoe wyd die gelykvormigheid strek waartoe ons bestem is. Ons moet soos God vergewe, soos God heilig wees, soos God barmhartig wees, soos God in die lig lewe, ja, selfs soos God volmaak wees! Dan is die verhouding met die medemens natuurlik ook nie bloot enkelvoudig te verstaan nie. Selfs Barth was nie heeltemal reg om net met die “tweesaamheid” van man en vrou te volstaan nie. Gregorius van Nazianze se verstaan van die beeld as Adam-Eva-Set (Genesis 5:3) in terme van die gesin is al klaar ‘n groter kring as Barth s’n, maar die verhouding strek Bybels nóg wyer. Ons word eerder opgeroep tot ‘n “meersaamheid” en ‘n “gemeensaamheid”: julle moet mekaar liefhê. Oor die verhouding met die natuur kan voorlopig volstaan word met die verwysing na die opdrag aan die mens om die skepping te bewoon en te bewerk. Dit is insiggewend om te lees dat wanneer die skrywer van Efesiërs handel oor die nuwe mens geskape na die beeld van Christus, hy hom oproep om te arbei óók vir ander. So weerspieël die nuwe mens die beeld van God. Meer nog, sit hy of sy dit selfs voort. Beeldskap is dus nie net om in verhoudings geplaas te wees nie, maar ook ‘n voortdurende appèl tot ‘n bepaalde manier van leef.

Ons identifiseer dus twee lyne in die Bybel wanneer daar oor die mens volgens die beeld van God gehandel word. In die eerste plek word oor die mens gepraat in terme van ‘n waardigheid wat hom of haar toekom kragtens sy of haar geskapenheid. Daarnaas is daar ook ‘n reeks tekste wat oor Christus as die beeld van God praat. Die twee lyne konvergeer in die gedagte dat die mens deur Christus verander word na die beeld van God. In die Ou Testament heers die gedagte nog dat die mens die beeld van God is, terwyl dit in die Nuwe Testament eerder wil hê dat die mens die beeld moet word-deur die verlossing in Jesus Christus. Hierdie bestemming en sin van menswees word dus nie uit Genesis 1:26 gehaal nie, maar wel uit die Nuwe Testament. Alhoewel die misterie rondom die beeld van God altyd sal bestaan, berus ons in die feit dat die fokus op die verhoudinge val waarin die mens in verantwoordelikheid hom of haar voor God bevind.

Hier is ‘n verdere uitgangspunt-naas die holistiese en verhoudingswesenlike-ook van belang. Ken ons God vanuit die mens, of ken ons die mens vanuit God? Wil die uitdrukking vir ons iets oor God sê of iets oor die mens? Het ons met mensvormige spreke (antropomorfisme) oor God te doen, of met Godvormige spreke (teomorfisme) oor die mens? Hierdie verskil op die spits gedryf, kan uiteindelik die kiem van ‘n woordopenbaring of ‘n natuuropenbaring huisves. Die keuse om by die bekende (die mens) te begin en daarvandaan na die onbekende te beweeg, mag didakties goed werk, maar geld nie hier nie. As ons vanuit onsself die onbekende God probeer verklaar, moet ons oppas om nie kort voor lank met ‘n selfprojeksie te sit wat aan ons persoonlike behoeftes en begeertes voldoen nie. Calvyn sê daarom aan die begin van sy Institusie: “Verder staan dit vas dat die mens nooit tot suiwer kennis van homself kom nie, tensy hy eers die aangesig van God aanskou het”. Barth het ook geglo dat wie mens wil sê, eers maar God moet leer sê. Pannenberg weer meen dat die mens sy of haar eie wese vanuit ‘n godservaring ontdek en dit is hierdie feit wat alle antropomorfismes oor God bepaal.

Daarom is die mens volgens die beeld van God juis geen afgehandelde saak nie, maar roep om in Christus vervul te word. Saam met hierdie gawe, kom ook die opdrag, die imperatief. Die Bybel roep die mens op om te word wat hy of sy reeds in Christus is. Byna sonder uitsondering word daar in die literatuur oor hierdie tema, by die begrippe “heiligheid” en “geregtigheid” uitgekom. Dit is natuurlik op spoor van Efesiërs 4:24: “…dat julle… die oue mens moet aflê …. en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid”. Woorde wat in die Jodedom gebruik is om lojaliteit en trou teenoor jou medemens en teenoor God onderskeidelik uit te druk.

‘n Taamlike vrugtelose debat was die vraag of die mens met die sondeval totaal of net gedeeltelik verdorwe geword het. Vrugteloos omdat dit van die premisse uitgaan dat ‘n chronologiese volgorde identifiseerbaar is en die mens-voor-die-sondeval gedefinieer kan word en boonop ook omdat die Genesis-proloog as ‘n genre hanteer word wat dit nie is nie. Anders as die Rooms-Katolieke Kerk wou die Hervormers nie toegee dat daar basiese goeie eienskappe van die mens na die sondeval behoue gebly het nie. Die RKK het veral hierdie natuurlike goeie eienskappe teenoor die bonatuurlike goeie eienskappe gesien as die verskil tussen die beeld en gelykenis. Die Hervormers het die totale verdorwenheid van die mens te sentraal geplaas om hieraan toe te gee. Die beeld van God het dus in die mens tot niet gegaan. (Omdat die beeld van God eintlik destyds eerder verstaan was as dit wat die mens anders as die dier maak, kan die ongemaklike konsekwensie van die Hervormers se standpunt hier raakgesien word. Daarom hoor ons ook by hulle van klein “reste” of ‘n “Goddelike vonkie” wat tog oorgebly het. Anders sou die “gevalle mens” mos ‘n dier wees!)

Die dilemma word natuurlik veroorsaak omdat die beeld van God as ‘n iets of ‘n eienskap van die mens gesien is. Wanneer ons egter die mens dinamies en eksisterend in sy of haar verhoudinge sien, los die probleem homself op. Jy kan nie iets verloor wat jy (nog) nie besit nie. Dit is God wat die mens aldus verklaar en in ‘n Goddelike relasie plaas. Die beeld van God blyk dus ‘n gebeure te wees. Die Nuwe Testament sien hierdie gebeure so radikaal dat dit selfs vergelyk word met die opstanding uit die dood. Dit is alleen God se genade wat dit moontlik maak en ken die Nuwe Testament nie so iets soos ‘n stukkie beeld wat oorgebly het nie.

 

Skrywer: Prof Johan Buitendag