Wat is die verhouding tussen mense se opinies en die gesag van die Bybel?

Wat is die verhouding tussen mense se opinies en die gesag van die Bybel?

In die lig van die artikel oor invloede by die lees en verstaan van die Bybel is dit te verstane dat ‚n spanning tussen die gesag van die Bybel en mense se opinies ontstaan. In ‘n tydsgees waar klem op vrye keuses val, is dit egter te verwagte dat die aandrang op die relevansie en bruikbaarheid van die Bybel al hoe belangriker vraag vir mense word. ‘n Belangrike vraag is dus: wat vra dit om Bybels relevant te wees? En verder: Waar lê die kritiese punt waar die behoefte om “in en relevant” te wees belangriker as die Bybel word as mense besluite moet neem.

Kom ons kyk na twee voorbeelde van Skrifgebruik – een uit Amerika en een uit Europa – waar ons die vraag kan vra: funksioneer die Bybel nog hier as gesagvol? Hierdie benaderings is grootliks beïnvloed deur dieselfde tydsgees as wat hierbo uiteengesit is en wat ons huidiglik rigtingewend beïnvloed.

a) Anti-Judaïsme binne Europa het ‘n sosiaal-etiese taboe na die Tweede Wêreldoorlog geword. Om geen kritiek teen Jode te lewer nie het in sommige gevalle belangriker as die historiese lees van die Skrif geword. (Natuurlik kan niemand anti-Judaïsme goedpraat nie, maar hier gaan dit om enigiets wat Jode doen, al is dit verkeerd. Daar word dus “na die ander kant gesondig”). Op punte waar dit lyk of daar uitsprake teen die Jode in die Skrif is, word die Skrif verwerp as irrelevant en selfs as sondig. Daar word so geargumenteer: die Skrif is deur sondige mense geskryf en bevat dus sondige dele; en nou die belangrike afleiding – watter dele verwerp moet word, word deur die voor- en afkeure van die lesers self bepaal. Díe dele wat nie vir jou ‘reg’ lyk volgens die norme wat vir die gemeenskap gangbaar is nie, kan jy as sonde ignoreer en as irrelevant uit die Bybel gooi. Die konsekwensie is duidelik: As ek nie van iets in die Skrif hou nie, verklaar ek dit tot onaanvaarbaar en uitgedien en volg my eie oplossing. Hierdie benadering word dikwels in debatte oor moeilike etiese sake, soos byvoorbeeld homoseksualisme, of sekere ander seksuele, politieke en ekonomiese gebruike aangetref.

b) Die tweede voorbeeld word uit die hedendaagse Jesusnavorsing geneem. Met verfynde argumente meen byvoorbeeld Crossan dat die hedendaagse mens nie meer in ‘n God kan glo wat oordeel of wat verwag dat sy Seun bloeddorstig aan ‘n kruis sterf om ander se sonde te vergewe nie. Die godsbeeld is net nie meer aanvaarbaar vir moderne mense nie. Tog is dit juis die boodskap van God wat ook die goddelose kom straf, ten spyte van sy liefde vir die wêreld wat graag almal tot bekering wil bring, wat deur die Bybelskrywers beklemtoon word. Om hierdie elemente uit die verhaal weg te laat of daaraan te verander beteken om die wese van Christelike boodskap te verander. Dan raak die Bybelverhaal soos Rooikappie sonder wolf, of krieket sonder ‘n kolf.

Dit doen iemand soos die bekende Crossan dan ook. Op grond van eie voorkeure het Crossan die sentrale elemente van die Christusverhaal, naamlik die kruis en die opstanding as onrealisties vir die hedendaagse navorser verklaar en uitgeskakel. In terme van krieket is die kolf nou weg. Hy aanvaar nie meer die Bybelse weergawe van die verhaal nie, en maak dus sy eie nuwe evangelieverhaal. Sy evangelieverhaal maak van Jesus net ‘n goeie prediker oor die koninkryk van God wat in liefde reeds hier en nou gekom het. Die opstanding van Jesus is bloot ‘n metafoor (of teologiese skepping) wat na geen historiese realiteit verwys nie en daarom kan gelowiges ook nie ‘n opstanding uit die dood of ‘n ewige lewe verwag nie. As ons dood is is ons dood.    

Die vraag is nou of  bogenoemde hanterings van die Skrif binne die raakwerk van die Christelike tradisie nie die kritiese punt oorsteek om werklik as legitieme Bybelse standpunt gereken te word nie? As die kern van die boodskap, soos dit in die Christelike bronne aangebied word, nie meer deel van die Christelike verhaal is nie, en ‘n ander narratief in die plek daarvan aangebied word, of as die Skrif ondergeskik gestel word aan norme wat buite die Skrif om in die gemeenskap funksioneer, raak dit al hoe moeiliker om dit as Bybels outentiek en legitiem te sien, al word daar na tekste in die Bybel verwys.  

In die volgende artikel kyk ons na die uitdagings vir die kerk. 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt