Wat is geluk?

The measure of our love for others can largely be determined by the frequency and earnestness of our prayers for them. —A.W. Pink

 

Wat is geluk?

Die belangrikste woord in die seënuitsprake (Matteus 5:3 – 12) is die woordjie  geseënd. Hoe vergelyk dit met vandag se najaag van geluk? Meer en meer mense vandag sien dat geluk hulle reg is – dit is ‘n basiese mensereg.

Maar wat beteken geluk? Vir die moderne mens beteken dit innerlike tevredenheid en materiële voorspoed. Kom ons kyk na ‘n paar moderne sienings oor geluk:

 

  • Dit is ‘n subjektiewe gevoel – ek voel goed oor my lewe, oor myself en oor my situasie.
  • Hierdie najaag na geluk eindig nooit nie – ek is op ‘n trapmeul wat aanhou loop. Dit gaan oor meer en meer – meer besittings, meer status …
  • Geluk gaan dikwels gepaard met vergelyking – ek vergelyk my met ander en so lank as wat ek meer as hulle het, is ek gelukkig. Daarom is ek gelukkig as ek my vergelyk met hulle wat minder as ek het.

So kan ek voortgaan en dinge byvoeg.

Dit is duidelik dat hierdie dinge nie is wat geseënd beteken nie. Geseënd/geluk in die seënuitsprake beteken nie dat ek goed voel nie, maar dat ek goed is. Hierdie “ek is goed” word nie deur my nie, maar deur Jesus gedefinieer en word deur my verhouding met God bepaal. Dit mag niks te doen hê met wat ek sien nie, maar alles met wat binne in my gebeur. Dit het alles te doen met my liefde vir God en my naaste. Hierdie liefde, plus my gedrag wat uit hierdie liefde voortspruit, maak my geseënd.

Is dit moontlik? Dietrich Bonhoeffer sê: Hier aan die einde van die seënuitsprake kom die vraag na vore: waar in hierdie wêreld kry so ‘n geloofsgemeenskap sy plek … aan die voet van die kruis.