Wat is my verhouding met die God wat met my in die Bybel praat?

The essence of apostasy is changing sides from that of the crucified to that of the crucifier. —John Stott

Wat is my verhouding met die God wat met my in die Bybel praat?

Baie van ons ken die leer oor die Bybel: die Bybel se gesag, inspirasie,onfeilbaarheid, ens. Maar nou kom Jakobus met ‘n verdere vraag: Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? (2:14). Die regte siening van die Bybel beteken ek ken en ek glo, maar daar is nog ‘n verdere stap: ek moet betrokke raak by die God van die Bybel. Jesus het hieroor ‘n gelykenis vertel: die gelykenis van die twee seuns (Matteus 21:28 – 32). Om te weier en later tog te gaan werk in die wingerd is tog beter as om in te stem en nie te gaan werk nie.

 

Scot McKnight (The Blue Parakeet) sê dat ons verhouding met die God van die Bybel is om na Hom te luister sodat ons Hom meer kan liefhê en ook ander meer volledig kan liefhê. As God al die gebooie saamvat in liefde vir Hom en liefde vir die naaste, kan ons hierdie liefde net kry deur na Hom te luister. Om die Bybel te lees, is om te luister.

Alan Jacobs (A Theology of Reading: The Hermeneutics of Love) maak twee belangrike waarnemings:

  • Geskrewe woorde is ‘n persoonlike kommunikasie van die een persoon na ‘n ander; en
  • Die regte verhouding van ‘n Christen tot iemand se kommunikasie/woorde is om daardie persoon lief te hê deur na sy woorde te luister.

Omdat woorde mense verteenwoordig, is dit belangrik hoe ons op woorde reageer.

Die grootste probleem is dat ons nie meer na God luister nie. Lees net weer Deuteronomium 6:4: Luister, Israel, die Here is ons God … Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en siel, met al jou krag. Die groot gebod is dat ons die Here moet liefhê, maar die eerste opdrag is om te luister.

Die woord luister/hoor in die Bybel funksioneer op ten minste drie vlakke:

  • Gee aandag – maak jou ore oop
  • Neem in – ons ore laat God se woord in sodat dit ons wese vul. Ons neem alles wat God gesê het, in.
  • Optrede – Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel (Matteus 7:24). Luister lei dus na optrede.

Abraham, Josef, Josia en vele ander luister na God se woorde, gee aandag daaraan, neem dit in en doen iets. Luister met aandag en met liefde is meer as om inligting bymekaar te maak.