Wat is ‘’n Messiaanse prediker?

Wat is ”n Messiaanse prediker? – Francois Malan

‘n Leser vra:
Wat is ‘n Messiaanse Prediker?

Antwoord
Prof. Francois Malan antwoord:

Die Hebreeuse woord Messias beteken Gesalfde. Die Griekse woord vir Gesalfde is Christus. Die verwys na die drie ampte waar persone gesalf word wanneer hulle deur die Here in diens gestel word. Veral die konings van die Ou Testament is gesalf. Vgl bv. Saul en Dawid wat deur die profeet Samuel gesalf is tot koning (1 Samuel 10:1; 16:12-13). Priesters is ook gesalf (Eksodus 28:41). So moes Elia vir Elisa salf as profeet om hom op te volg (1 Konings 19:16).

Jesus Christus was nie met olie gesalf nie, maar met die Heilige Gees (Handelinge 10:38) as die Koning wat met liefde regeer in God se Koninkryk (Johannes 18:36-37), as die profeet wat God se Woord is en God se woord vir ons gebring het (Johannes 1:1; 12:49), en as die groot hoëpriester wat Homself vir ons sondes geoffer het deur te sterwe aan die kruis en opgestaan het uit die dood (Hebreërs 8).

Mense wat in Jesus glo as die Here oor hulle lewe en hulle Verlosser, is ook gesalfdes, deur die Heilige Gees gesalf om te glo in Jesus en van Hom te getuig, om hulle te lei in hulle daaglikse lewe en hulle met God se liefdeskrag te vul (2 Korintiërs 1:21-22 God het ons vir Hom afgesonder – letterlik ‘gesalf’). 1 Petrus 2:9 noem die gelowiges: ”n koninklike priesterdom wat die wonderdae van God verkondig’,

Volgens die Bybel is ‘n Messiaanse Prediker dus ‘n iemand wat deur die Heilige Gees gesalf is deurdat hy in staat gestel is om in Jesus te glo en om die woord van Christus (die Gesalfde) te verkondig deur ‘n liefdevolle lewenswyse en woorde. Die salwing vind nie plaas met salf nie, maar deurdat die Heilige Gees ‘n mens deur die woord van God oortuig van sonde en dat Jesus ons verhouding met God reggemaak het, sodat ons saam met Jesus, die Seun van God, kan lewe as kinders van God (vgl. Johannes 16:7-11 en Romeine 8 9-17).

 

Skrywer: Prof Francois Malan