Wat sal jy hierdie Kersfees kry?

Blog326

Men do not reject the Bible because it contradicts itself, but because it contradicts them. —E. Paul Hovey

 

Wat sal jy hierdie Kersfees kry?

En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê … Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het (Lukas 2:12 en 15).

Ons spandeer baie tyd om geskikte geskenke vir ons kinders en vriende te kry. Baie van ons sal nie kry wat ons graag wil hê nie. Daardie eerste Kersfees het baie mense ook nie die kindjie gekry nie, want hulle het Hom nie gesoek nie. Die wyse manne en die skaapwagters het Hom gekry, want hulle het Hom gesoek.

 

Wat gaan jy hierdie Kersfees kry? Dit waarna jy soek? Soek, en julle sal kry (Matteus 7:7). Mense vra wat is die betekenis van die lewe of is daar ‘n God en as daar ‘n God is hoe kry ek Hom? Dit is waaroor Kersfees gaan: om God te soek en te kry. God weet alles van ons en Hy wil hê dat ons alles van Hom moet weet. Daarom het Hy vir Jesus gestuur.

 

Rick Warren sê dat God vir ons hierdie Kersfees drie geskenke gee.

  1. Hierdie Kersfees gee God vir jou vergifnis

Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore (Lukas 2:11)

Kersfees gaan oor hierdie Verlosser. As gevolg van hierdie Verlosser kan my sondes nou vergewe word – ek kry die kosbare geskenk van ‘n skoon gewete. Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang (Handelinge 10:43). Let wel: elkeen, almal. Erken net dat jy Hom nodig het om jou te verlos. Vra enige lewensredder hoe jy ‘n persoon wat besig is om te verdrink, red. Jy gaan nie slaag terwyl hy nog sukkel om homself te red nie. Eers as hy oorgegee het, kan jy hom red. Dit is ons groot probleem: ons probeer onsself red.

 

  1. Hierdie Kersfees gee God vir jou gemoedsrus

Vir dié wat u wet liefhet, is daar groot sekerheid; niks kan hulle laat struikel nie (Psalm 119:165)

Ons weet nie meer wat ware vrede is nie. Daar is drie dinge wat ons vrede steel: skuldgevoelens, hartseer en as ek ‘n wrok dra. Ware vrede word deur ons verhouding met Jesus Christus bepaal. Ons weet dat God nooit sal ophou om ons lief te hê nie; Hy sal my nooit alleen laat nie. Maak nie saak wat gebeur nie, God gaan my krag gee om dit te hanteer.

 

  1. Hierdie Kersfees kan ek die ewige lewe kry
  • Almal van ons gaan eendag sterf.
  • Ons gaan ‘n groter deel van ons lewe na die dood as voor die dood spandeer.

Hierdie is lewensfeite wat ons moet aanvaar. Hierdie Kersfees kan ons die ewige lewe kry … ons moet net in Jesus Christus glo. Dan sal Hy ons verlos.

 

Die probleem van ons moderne mense is dat ons dikwels nie weet wat ons soek nie. Wat ons hierdie Kersfees moet soek – soos die wyse manne en die skaapwagters – is Jesus Christus.

 En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe (1 Johannes 5:20)