Wat sê die Bybel wie is God?

Time is the most valuable thing that we have, because it is the most irrevocable.” ― Dietrich Bonhoeffer

Wat sê die Bybel wie is God?

In die begin het God die hemel en die aarde geskep.

In die heel eerste vers van die Bybel ontmoet ons vir God – Hy word aan ons as die belangrikste persoon in die verhaal van die Bybel bekendgestel. Die skrywer praat nie filosofies of teologies oor God nie. Hy sê glad nie vir ons waar God vandaan kom of hoekom Hy die hemel en die aarde geskep het nie – daardie vrae wat ons so besig hou.

Wat sê die skrywer vir ons van God? Hy vertel vir ons wat Hy gedoen het. Hy wys vir ons God se absolute mag en sy heerlikheid. As die verhaal begin, is Hy reeds daar. Daarom kan niks of niemand met Hom vergelyk word nie. Hy praat net en dinge gebeur. Alles is daar as gevolg van sy bevele.

Dit is hierdie absolute verskil tussen God en die mens wat die engele in die hemel laat uitroep: Heilig! Heilig! Heilig! As ons Genesis 1 en 2 lees, besef ons dat hierdie wêreld aan God behoort. Geen persoon of ding het ‘n plek in hierdie heelal as God dit nie daar geplaas het nie. Hy is die alleeneienaar van alle dinge.

Ons as mense moet nederig wees oor ons plek in die wêreld. Ons is nie die middelpunt van alles nie. God het ons hier geplaas; God delegeer wel ‘n sekere gesag aan die mens. Dit is afgeleide gesag wat God aan ons gee om op ‘n spesifieke manier te gebruik. Om dit baie duidelik te maak, gebruik die Bybel op ‘n paar plekke die beeld van die pottebakker en sy klei. Julle is agterstevoor met alles asof die pottebakker die klei is. Die maaksel kan mos nie van sy maker sê: “Hy het my nie gemaak nie”; die kleipot kan mos nie vir die pottebakker sê: “Hy weet nie wat hy doen nie” (Jesaja 29:15 – 16); Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders en iets alledaags te maak nie? (Romeine 9:19 – 24).

Wat is die vrae wat ons vra as ons Genesis 1 en 2 lees? Hoe oud is die wêreld? Hoe het God die heelal gemaak? Hoe lank het Hy geneem om alles te maak – was dit ses dae soos ons dit ken of ses tydperke of wat ook al? Die skrywer(s) van Genesis 1 en 2 stel nie hierin belang nie. Wat vir hom belangrik is, is God se absolute mag om alles te maak wat beteken dat Hy die alleeneienaar van alle dinge is.