Wat verwag God van ons – sukses of trou?


Prayer is not asking. Prayer is putting oneself in the hands of God, at His disposition, and listening to His voice in the depth of our hearts –
Moeder Teresa

 

Wat verwag God van ons – sukses of trou?

Lees net weer die boek Handelinge. Wat staan uit? Trou. Die apostels het wondertekens gesien; hulle bediening was suksesvol – kyk net na die groei in die vroeë kerk.

 

Paulus staan aan die einde van sy bediening. Hy spreek die ouderlinge van Efese toe (Handelinge 20:17ev). Wat is sy groot bekommernis? Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak (20:24). Sy groot bekommernis is dat hy getrou aan sy roeping sal bly.

 

Van ‘n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar moet wees (1 Korintiërs 4:2). [Bestuurders hier is mense aan wie die geheimenisse van God toevertrou is = rentmeesters.] Rentmeesters is dienaars. – hulle enigste verantwoordelikheid is om te doen wat hulle meesters vir hulle sê.

 

Wat God van ons verwag is nie sukses nie, maar trou in wat Hy aan ons toevertrou het. Vra jouself: Waarvoor het Christus my geroep? Ek is nie verantwoordelik om die wêreld te red nie, maar ek is verantwoordelik om Christus in my situasie te volg. Vir ‘n dienaar is sukses in die lewe om te identifiseer waarvoor God my geroep het en om volkome betroubaar daarin te wees. Elke behoefte om my is nie my saak nie – ek kan nie alles doen nie. Dit is ‘n les wat elkeen van ons persoonlik moet leer. Ons vra: Waar kan ek die grootste impak maak? Wat ons eerder moet vra, is: Waar wil God my gebruik?

 

Meeste van hierdie geleenthede is reeds reg voor my. Ek mag dit dalk nie raaksien nie, maar eendag sal ek geskok wees as ek sien hoe God al hierdie klein optredes van trou kragtig in die lewens van ander gebruik het. Wat is die een ding wat almal van ons begeer om te hoor? Dat Christus, wat ons liefgehad het en vir ons sonde gesterf het, sê: Mooi so, jou goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, ek sal jou oor baie aanstel. Kom deel in jou heer se vreugde (Matteus 25:23 – Direkte Vertaling in Interliniêre Bybel).