Wedergeboorte en Bekering

Wedergeboorte en Bekering – Francois Malan

Vraag 

Jackie vra: 

Wat is die verskil tussen wedergeboorte en bekering?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Wedergeboorte is die nuwe lewe wat God in die hart van die uitverkore sondaar begin. Dit is nie ‘n geboorte wat uit die mens kom nie, maar uit God:

Johannes 1:13 uit God gebore;

Johannes 3:3,7 gebore van bo-af;

Johannes 3:6,8 gebore uit die Gees;

Jakobus 1:18  God het ons deur die woord van die waarheid voortgebring;

1 Johannes 5:11 God het ons die ewige lewe gegee, en die lewe is in sy Seun;

1 Petrus 1:23 julle is weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike,

deur die lewende en blywende woord van God;

Titus 3:4-7 maar toe die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens

verskyn, nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie,

maar volgens sy eie ontferming, het Hy ons gered deur die reiniging van die

weergeboorte en die vernuwing van die Heilige Gees, wat Hy oorvloedig op ons

uitgestort het deur Jesus Christus ons Verlosser, sodat ons as geregverdigdes deur

sy genade, erfgename geword het in vertroue op die ewige lewe;

1 Petrus 1:3 deur die groot barmhartigheid van God, die Vader van ons Here Jesus

Christus, het Hy ons weergebore laat word tot ‘n lewende hoop deur die

opstanding van Jesus Christus uit die dood tot ‘n onverganklike onbesmette en

onverwelklike erfenis wat in die hemel vir ons bewaar word.

In die Bybel is weergeboorte nooit ‘n opdrag aan die mens nie. Dit is die werk van die Heilige Gees, wat die woord van God gebruik om ons te oortuig van ons sonde en van verlossing deur Jesus (Johannes 16:7-11), om van ons kinders van God te maak (Romeine 8:15-17. Dit is ‘n geboorte van bo-af (Johannes 3:3). Daarmee word ons in Christus opgeneem as deel van sy opgestane liggaam. Dit is ‘n proses wat deur ons hele lewe werk om ons al meer soos Christus te maak (2 Korintiërs 3:18). Deur die werking van die Heilige Gees in ons word ons verstand verlig om God se wil en sy woord beter te verstaan (Efesiërs 1:18), ons hart/denke word vernuwe (2 Korintiërs 4:16; Efesiërs 4:23; Kolossense 3:10), ons wil word verander en ons gevoel gereinig, ‘n totale lewensvernuwing waarmee die Heilige Gees met ons begin (Efesiërs 4:23,24).

Die herskepping van die hemel en die aarde word in Matteus 19:28 ook as ‘n wedergeboorte beskryf.

Bekering is die mens se hartlike leedwese oor en totale breuk met sy sondige lewe en die begin van ‘n nuwe lewe, uit opregte liefde vir God. Soos wat die Heilige Gees ons oortuig van sonde, van Jesus se geregtigheid waarmee Hy ons aan God verbind, word ons ingeskakel by die werk van die Gees in ons. Dit begin by berou oor my sonde, die omdraai weg van die sonde af en na God toe. Dit is ‘n aanneem van die verlossing wat Jesus vir my bewerk het, en my oorgawe om Hom te volg as my Leidsman. Bekering begin een dag maar word voortgesit dwarsdeur my lewe.

In die oorspronklike Grieks word drie woorde vir bekering gebruik:

Die eerste een metanoia (letterlik: ‘n verandering van jou gees) verwys na ‘n verandering van lewe as gevolg van ‘n totale verandering van denke en gesindheid oor sonde en geregtigheid. Alle sonde is sonde teen God en sy wil en sy gebod van liefde, wat Hy as riglyne vir ons lewe gee.

Geregtigheid is die regmaak van die verhouding tussen ons en God, om van ons God se kinders te maak wat in lewe sy gesin van dié mense wat in Jesus Christus glo, onder sy liefdevolle sorg en wyse leiding (vgl. bv. Matteus 3:2; 4:17; 11:20,21; Markus 1:15; 6:12; Lukas 15:7; Handelinge 2:38; 8:22; Romeine 2:4).

Die tweede en derde woorde, strefomai en epistrefo, beteken om om te draai:

Dit verwys ook na ‘n verandering van jou geloof en opinie van die waarheid, met die fokus op

dit waarnatoe jy draai – omdraai na, tot geloof kom (in Christus), tot aanvaarding kom;

Maar dit verwys veral na ‘n verandering van jou manier van lewe, met die implikasie van omdraai na God toe, doen soos Hy sê (vgl. bv . Matteus  13:15; 18:3; Markus 4:12; Lukas 1:16,17; 17:4; 22:32;  Johannes 12:40; Handelinge 3:19; 9:35; 11:21; 14:15; 15:19; 26:18,20; 28:27; 1 Tessalonisense 1:9; 1 Petrus 2:25).

Waar wedergeboorte totaal God se werk in my is, is bekering my reaksie daarop en my daaglikse verantwoordelikheid daarvoor, onder die leiding en met die krag van die Gees van God, volgens die woord van God.

 

Skrywer: Prof Francois Malan