Wedergeboorte en die Heilige Gees

You run against God with the horns of your pride up in the air and thus plunge into the abyss of hell. Woe unto you, Antichrist!  – Martin Luther

 

Wedergeboorte en die Heilige Gees

In Johannes 3 lees ons van Jesus se gesprek met Nikodemus. Daar lees ons: Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is (3:8). Vooraf het ons gelees: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie (3:3). Niemand word ‘n kind van God gebore nie – daar is eers ‘n hartsverandering bewerk deur die Heilige Gees nodig. Die woord “wedergebore Christen” is onnodig, want niemand kan ‘n Christen wees as hy nie wedergebore word nie.

 

 

Hierdie ondervinding van die wedergeboorte is soms baie moeilik om in woorde te te beskryf. Daar is heelwat misterie verbonde aan die werking van die Heilige Gees in ons lewens.. Ons weet dat Hy werk, maar ons kan nie altyd verduidelik hoe Hy werk nie. Die werklike proses van wedergeboorte vind binne in ons plaas en is nie met ons oë waarneembaar nie.

 

Nikodemus, ‘n Fariseër en lid van die Joodse Raad, stel duidelik belang in Jesus, maar hy is nog nie ‘n dissipel van Jesus Christus nie. Ons sien dit uit sy onvermoë om te begryp waaroor Jesus praat (3:4). Jesus moes die hele proses van wedergeboorte aan hom verduidelik het. Dit is dan dat Jesus hom op die geheimsinnige werking van die Gees wys – dit is soos die wind wat waai. [Die Hebreeuse woord vir wind kan ook met Gees vertaal word. Wetende dat die Gees se werk, soos dié van die wind, onsigbaar is, is dit sinvol dat die Bybelskrywers dieselfde woord vir beide gebruik.]

Ons kan die wind voel en sy gevolge sien – takke wat waai – maar ons kan nie die wind self sien nie. Net so kan ons nie die Heilige Gees sien nie, maar sy werking is sigbaar in die vrugte wat Hy produseer. Ons weet ons is weergebore as ons bewyse van sy werking in ons harte sien.