Wedergeboorte en Nikodemus – Hermie van Zyl

Jan vra:

Jesus sê vir Nikodemus (Joh 3:3): “As iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie SIEN nie.”
As Nikodemus dit dan soos ‘n natuurlike geboorte verstaan, sê Jesus (v5): “As iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie INGAAN nie.”
Vers 10: Jesus sê vir hom: “Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?”

Hoekom sou Jesus eers sê “sien” en dan “nie ingaan nie”?
Hoe sou Nikodemus kon weet van wedergeboorte?

Antwoord

Prof. Hermie van Zyl antwoord:

Daar is nie regtig ‘n verskil in betekenis tussen Joh 3:3 se “sien” van die koninkryk van God en 3:5 se “ingaan” in die koninkryk nie. Kenners is dit eens dat die twee verse parallelle vir mekaar vorm. Vers 5 verduidelik eintlik net verder wat met vers 3 bedoel word. Om die koninkryk “te sien”, beteken om dit te ervaar, te beleef, daaraan deel te hê (kyk Joh 3:36; Luk 9:27 vir ‘n soortgelyke gebruik van “sien”). En dit is dieselfde as om in die koninkryk “in te gaan”.

Bloot taalkundig gesproke is daar uiteraard ‘n betekenisverskil tussen sien en ingaan. Moses het bv die beloofde land gesien, maar dit nie ingegaan nie (Deut 34:4). En so sien die ryk man die “hemel” of “koninkryk van God” waar Abraham en Lasarus is, maar hy het nie deel daaraan nie (kan daar nie ingaan nie) (Luk 16:23,26). Hierdie verskil in betekenis is egter nie die bedoeling van Joh 3:3, 5 nie. Hier word “sien” en “ingaan” as sinonieme gebruik. Mens sou hoogstens kon sê dat “sien” die gedagte tuisbring dat mens die verband tussen die koninkryk van God en die openbaring daarvan in die persoon van Jesus Christus moet kan sien, d w s begryp, aanvaar. Maar dit is in wese dieselfde as om deur Christus die koninkryk in te gaan.

Hierbo is gesê dat v5 eintlik net verder verduidelik wat dit beteken om “weer gebore” te word (v3). Vers 5 sê dat om “weer gebore te word” beteken om “uit water en Gees” gebore te word. Om die verband tussen hierdie twee verse te verstaan, moet ons eers iets sê oor die “weer” van weer gebore. Die Griekse woord (anōthen) wat in v3 met “weer” gebore (1933/53 Vertaling) of met “opnuut” gebore (1983 Vertaling) vertaal word, is dubbelsinnig en kan ook met “van bo-af” gebore vertaal word. Die Johannesevangelie is bekend daarvoor dat dit soms doelbewus begrippe gebruik wat dubbele betekenisse het. Beide die betekenisse van “weer” en “van bo-af” is dus moontlik en waar: as jy “weer” gebore word, word jy terselfdertyd “van Bo-af” gebore, d w s deur God se Gees nuut gemaak. Dan is dit asof jy weer soos ‘n kind van vooraf moet leer dink, praat en loop; jy moet leer hoe om te leef in God se koninkryk. En dit is dieselfde as wat Matt 18:3 sê: “As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.” Wedergeboorte is dus ‘n begrip wat dui op die werk van God se Gees wat mense nuut maak sodat hulle soos God kan begin dink en kan verstaan hoe God se koninkryk werk.

Vervolgens moet ons iets sê oor Nikodemus se onkunde oor die wedergeboorte. Hoe is dit dat hy as leermeester van Israel nie kon weet wat Jesus bedoel nie? Eerstens moet ons hierdie vermeende onkunde van Nikodemus sien as ‘n literêre tegniek van die Johannesevangelie om van letterlike na figuurlike betekenis, of van ‘n aardse na ‘n geestelike werklikheid te beweeg. Dit is ‘n bekende tegniek in die Johannesevangelie. Byvoorbeeld, in 13:36-14:14 is die dissipels onkundig oor waarheen Jesus gaan en wat presies sy verhouding met die Vader is. Daarom vra/versoek hulle: Waarheen gaan U?; toon ons die Vader. Maar eintlik is hierdie (onkundige) vrae net ‘n tegniek van Johannes om Jesus aan die woord te stel oor sy herkoms (naamlik sy hemelse tuiste), oor sy verhouding met die Vader, en oor die dissipels se eintlike woning en toekoms. Hulle onkunde lei dus tot dieper onderrig van Jesus oor sy – en hulle! – ware identiteit. In Joh 3 gebruik Johannes gevolglik Nikodemus se onkunde om hom te lei van letterlike geboorte na die geestelike geboorte wat God deur sy Gees bewerkstellig.

Tweedens, na regte moes Nikodemus nie so onkundig gewees het nie. As geestelike leermeester van Israel moes hy geweet het van die Ou-Testamentiese tradisie dat in die laaste dae God deur sy Gees sy volk sal nuut maak. Jes 32:15 en Joël 2:28-32 vertel van die Gees wat in die eindtyd van Bo uitgestort sal word. En in Eseg 36:25-27 word die verband tussen die reinigende krag van water en God se Gees gelê: Hy sal sy volk reinig met suiwerende water, ‘n nuwe gees in hulle binneste gee wat gewillig is om God se gebooie te doen, en sy Gees in hulle gee. Die gedagte vervat in Joh 3:5 dat iemand uit water en Gees gebore moet word, is dus nie onbekend vanuit die OT nie. Ook die gedagte van kinders van God te wees, d w s om deur God “verwek” te word, kom in die OT voor. Israel word God se seun genoem (Eks 4:22; Deut 32:6; Hos 11:1) en in die huis van Dawid word die konings ook seuns van God genoem wat deur God “verwek” is (Ps 2:7). Dus, hoewel Nikodemus miskien nie kennis sou gehad het van die spesifieke manier waarop Jesus oor ‘n geestelike hergeboorte praat nie, sou en moes hy vanuit sy kennis van die OT tog ten minste verstaan het waarop Jesus dui toe Hy begin praat het oor die wedergeboorte deur water en Gees, naamlik die nuwe bestaan waar God jou deur sy Gees sy kind maak, en reinig en geskik maak vir sy koninkryk.

Jesus se verbasing oor Nikodemus se onkunde is dus nie misplaas nie, en is gesien binne die groter geheel van die Johannesevangelie ook ‘n aanklag teen die Joodse geestelike leiers van Jesus se tyd, waarvan Nikodemus ‘n verteenwoordiger was, dat hulle nie die tyd van Israel se vernuwing deur Jesus se werk kon herken nie.

 Skrywer:  Prof Hermie van Zyl