Wedergeboorte – Francois Malan

Petro vra:

Is dit noodsaaklik dat ‘n mens die datum Moet kan onthou wat jy die Here aangeneem het as jou Verlosser Kan jy jouself beskou as ‘n wedergeborene sonder om die spesifike datem en tyd te onthou?

 ANTWOORD

Prof Francois Malan antwoord:

Volgens die Bybel is wedergeboorte die werk van God, en die mens se verantwoordelikheid lê by die bekering waartoe die Heilige Gees jou lei en daarin versterk.

In Johannes 3:3 sê Jesus vir Nikodemus:  ‘Voorwaar, voorwaar, as iemand nie van bo weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Die Griekse bronteks gebruik die woorde gennêthênai anōthen – die passief ‘gebore word’ beteken dat jy deur God gebore word, en anōthen verwys na ‘van bo’ en/of ‘weer.’ Nikodemus verstaan dit toe verkeerd en sê ’n mens kan tog nie vir ’n tweede keer in die moederskoot ingaan en gebore word nie.

Jesus sê (3:8) wat uit die mens gebore word, is menslik; en wat uit die Gees gebore word, is geestelik. In Joh 14:26 sê Jesus: die Heilige Gees wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het. In Joh 16:8 sê Jesus: wanneer die Heilige Gees kom sal Hy die wêreld oortuig van sonde en geregtigheid en oordeel.

Dit is die Heilige Gees van God wat in ons werk om in Jesus te glo as ons Verlosser van ons sonde en ons verhouding met God reg te maak om kinders van God te word. In Joh 3:16 sê Jesus: Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

1 Petrus 1:23-24 sê: Julle is immers weergeborenes, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende  en blywende woord van God…die woord van die Here bly vir tot in ewigheid.  Die Griekse woord anagegennêmenoi ‘weergeborenes’ is weer ’n passiewe vorm wat na God verwys wat ons weer/van bo laat gebore word. Dit gebeur deur die woord van die Here te glo. Efesiërs 2:8 sê: Uit genade is julle verlos/gered deur geloof. En dit (verlossing en geloof) kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.

Titus 3:4-7 sê: ‘Toe die goedheid en menseliefde van God, ons Verlosser, verskyn, het Hy ons verlos  – nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming – deur die afwassing van die wedergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus Christus, ons Verlosser. So het ons, geregtig deur sy genade, erfgename geword van die ewige lewe waarop ons hoop.’

Johanns 1:12-13 sê: ‘Aan almal wat Hom aanvaar het, hulle wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word, dié wat nie uit bloed, of liggaamlike drang, of volgens die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is.’

Met ander woorde, dit hang nie van jou datum van bekering af nie, maar van jou geloof in die Here Jesus as jou Verlosser. As jy in Hom glo, kan jy seker wees van jou wedergeboorte deur God. Jy word weer gebore deur die Heilige Gees wat in jou werk om in Jesus te glo.  Bekering is ook nie ’n saak van een dag waarvan jy die datum onthou nie, maar die Here roep ons om daagliks tot bekering te kom. Dit is ’n lewenstaak, wat deur jou hele lewe loop. Efesiërs 4:16 sê: ‘…dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Christus toe sal groei..’ 2 Kor 3:18 sê: ‘En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou soos in ’n spieël (nl. in sy woord), word ons deur die Gees verander na die beeld van Christus’  sodat ons al meer soos Jesus sal word. Die vrug van die daaglikse werk van die Gees in ons is liefde, geduld, goedheid, getrouheid, vrede, vreugde, vriendelikheid, nederigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23).

Die Griekse woorde in die Nuwe Testament vir bekering is metanoia, strefōmai en epistrefō.

 Metanoia beteken dat jou manier van lewe verander as gevolg van ’n verandering van jou gedagtes en houding oor sonde en die regte verhouding tot God wat vir jou sonde aan die kruis gesterf het, vgl. bv. Romeine 2:4: ‘Of verag jy die rykdom van sy goedheid, sy verdraagsaamheid en geduld, en besef jy nie dat God se goedheid jou tot bekering wil bring nie?’

Strefōmai beteken om jou manier van lewe te verander en dat jy doen wat die Here van jou vra in sy Woord; vgl. bv. Matteus 18:3-5 ‘Voorwaar Ek sê vir julle: As julle nie verander en soos kinders word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel ingaan nie. Wie homself dus gering ag soos hierdie kind, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemele. En wie een so ’n kind in my Naam ontvang, ontvang My.’

Epistrefō beteken om jou manier van lewe in ’n spesifieke rigting te verander, wat impliseer dat jy na God toe terugkom; vgl. bv. 1 Petrus 2:25 ‘Julle was immers verdwaal soos skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Bewaker van julle siele.’  – dit beteken dat jou lewenswyse heeltemal omdraai. Dat jy begin om nie meer vir jouself te lewe nie, maar vir God, en te vra wat Hy wil hê dat jy moet doen, en om jou lewe in te rig volgens sy Woord.

Die Heilige  Gees werk in ons, om ons te oortuig van ons sonde voor God, en van ons verlossing daarvan deur Jesus se liefdesoffer, wat die straf op al ons sonde aan die kruis vir ons gedra het. En ons bekering bestaan daarin dat ons dit begin glo, en dat ons al meer in dankbaarheid daarvoor  lewe deur ook ander te vergewe wat ons benadeel (vgl. Matteus 5:45-48 julle moet julle vyande liefhê soos ons Vader ons liefhet), en mense in nood by te staan (vgl. Matteus 25:31-45: Wat ons vir een van die geringste behoeftige gelowiges gedoen het, kos gegee het, water gegee het, klere gegee het, verwelkom het, besoek het, het ons vir Jesus gedoen).

Skrywer: Prof Francois Malan