“Weer gebore” of “van Bo gebore”?

“Weer gebore” of “van Bo gebore”? – Herman Grobler

Ons het verlede week na die drie hoofredes gekyk waarom Bybelvertalings van mekaar verskil. Kom ons kyk na ‘n spesifieke geval waar die verskil nie baie opsigtelik is nie, maar tog van belang.

 

 

Somtyds het ‘n woord meer as een betekenis-klemtoon. In Johannes 3:3 sê Jesus dat iemand wat nie aan ‘n bepaalde voorwaarde voldoen nie, nie die Koninkryk van God sal “sien” nie. Jesus bedoel dit natuurlik nie visueel nie, maar dat so iemand nie sal “ingaan” nie. In Afrikaans dra die woord “sien” hier ook die selfde betekenis as in Grieks. Ons verstaan presies dieselfde as wat die eerste lesers in die Grieks sou verstaan het.

Maar dit is nie altyd die geval nie. Die voorwaarde waaraan ‘n mens moet voldoen, is juis so ‘n geval. Die Griekse woord “anōthen” wat daar gebruik word, dra twee klemtone wat nie in Afrikaans met een woord herhaal kan word nie. Dit kan verstaan word as: “Weer gebore” of “van Bo gebore”. In so ‘n geval is die vertaler genoodsaak om ‘n keuse te maak.

Wat het Jesus bedoel? Moet ‘n mens “weer gebore” word, of “van Bo gebore” word om die Koninkryk van God binne te gaan?

 

Ons kyk eers na die manier wat sommige Afrikaanse vertalings Joh. 3:3 vertaal:

 

1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling: Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.

 

1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling: Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

 

Die Bybel vir almal: “…weer gebore…”

 

NLV: “…Ek verseker jou, as iemand nie van bo gebore word nie…”

 

Interliniêr: “Amen, amen, Ek sê vir jou: as iemand nie van bo gebore word nie…”

 

Die Boodskap: “…nog ‘n keer gebore…”

 

Die eerste gebruik van die woord “anōthen” het met posisie te doen. Dit dra dan die betekenis “van bo af”, wat eintlik na die Hemelse verwys. Dit bring ‘n vertikale rigting van bo na onder mee.

Joh. 3:31: “Hy wat van bo kom, is bo almal;

Joh. 19:11: “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.”

Jak.1:17: “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer

Jak. 3:15: “Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie

Jak. 3:17: “Maar die wysheid van bo is ten eerste rein,”

Dit kan ook net “van die bokant af” beteken.

Mat. 27:51 en Mark. 15:38: “En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder.

Joh. 19:23: “…maar die onderkleed was sonder naat, van bo af in een stuk gewewe.

 

Die tweede gebruik van “anōthen” het met tyd te doen. Dit dui die verband met ‘n vroeër toestand of gebeurtenis aan, en dui ‘n horisontale beweging in tyd, van toe tot nou aan.

Luk. 1:3: “… nadat ek van voor af alles noukeurig ondersoek het,”

Hand. 26:5: “…omdat hulle my van dié tyd af geken het,”

Gal. 4:9: “…hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien?

 

Die vraag voor ons is om te bepaal of  “anōthen” in Joh. 3:3 en vers 7 verstaan moet word in verhouding tot posisie, of tyd.

Grammatikaal kan dit verwys na posisie, met die gevolg dat dit ‘n vertikale beweging van Bo, of van God af na onder, na die sondaar sou aandui.

Maar net so wel kan dit verwys na ‘n vroeëre gebeurtenis, nl. die menslike geboorte. Dit sou dan verstaan word as ‘n horisontale beweging in tyd, van die natuurlike geboorte na die geestelike geboorte van die sondaar in die huidige tyd.

Albei moontlikhede sal ‘n legitieme vertaling van  “anōthen” verteenwoordig.

Gevolglik moet ons uit die konteks probeer vasstel watter die beste vertaling sou wees.

 

In sy gesprek met Nikodemus kom Jesus onmiddelik by die kern uit nl. die sien of ingaan in die Koninkryk van God, en stel dit dat ‘n totale nuwe entiteit geskep moet word. Dit beskryf Hy na analogie van die geboorte.

Nikodemus het onmiddelik verstaan dat Jesus na die natuurlike geboorte verwys, vandaar sy verwysing na die onmoontlikheid vir ‘n volwasse man om weer die moederskoot binne te gaan. Soos Nikodemus dit verstaan het, lyk dit of “anōthen” eerder in terme van tyd verstaan moet word. Gevolglik sou “weer gebore” die beste in vers 3 pas.

Hierop antwoord Jesus dat ‘n mens uit “water en gees” gebore moet word, want “Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.” In vers 7 is dit duidelik dat Jesus na die geestelike geboorte verwys, en sou “anōthen” eerder na posisie verwys. Hier sou “van Bo gebore” beter pas.

Maar dit sou nie logiese sin maak indien die vertaler in vers 3 “anōthen” in sy tydsbetekenis “weer gebore”vertaal, en dieselfde woord enkele verse verder, in vers 7, in sy ruimtelike betekenis “van Bo gebore” vertaal nie. Die vertaler is genoodsaak om ‘n keuse te maak!

 

‘n Christen moet van God gebore wees. Word dit die beste beskryf as “weer gebore” of as “van Bo gebore”?

 

Indien dit jou taak was om hierdie deel te vertaal, wat sou jou keuse wees?

 

Skrywer: Herman Grobler