Weerspreek God Homself?

Weerspreek God Homself? – Kobus Kok

Charlotte vra:

Dankie vir so ‘n webtuiste en ek het bietjie gelees, dit is baie suiwer vir my. Kan ek iets vra, in die Woord staan daar tekste en dan lyk dit of die Woord homself weerspreek, soos byvoorbeeld: Daar staan Ek weet wat Ek vir jou toekoms beplan –  ‘n verwagting en voorspoed. Baie plekke belowe Hy dat ons veilig sal wees en nie moet kommer nie, MAAR dan gebeur die teendeel in ons lewens…en dan is daar nie daardie beskerming en sorg nie. Waarom dan? Is dit omdat ek nie daarop ag slaan en vas glo nie, want daar staan ons moet glo dat Hy ‘n waarmaker is van Sy woord. Hoe werk die dinge ?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord

Jy is heeltemal reg dat die Bybel wel op party plekke duidelik sê dat God vir ons net die goeie beplan en in gedagte het, maar op ander plekke lyk die teendeel daarvan waar te wees. So byvoorbeeld lees ons in Jeremia 29:11 die volgende: “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ʼn hoopvolle toekoms te gee, ʼn verwagting.

Duidelik uit hierdie verse, spring die waarheid deur die duisende jare oue bladsye uit en plons dit sagkens in ons harte neer. Hierdie vers resoneer tog so goed met ons omdat ons inderdaad vir onsself voorspoed en nie teenspoed wens nie – ons almal benodig die energie om vir ʼn toekomsverwagting te leef. Soveel te meer as dit uit die Woord van God kom en God sê dat dit Sy hart vir ons is – soos ʼn Vader wat net die beste vir sy eie kind wil hê.

Maar dan moet ons ook daardie teks van Jeremia mooi verstaan en lees binne die konteks waarin hy geskryf is. Waar dink jy is die volk van God op daardie stadium? Wel, hulle is nie in die beloofde land nie, hulle is nie in die land van melk en heuning nie. Hulle is in die smeltkroes van omstandighede waarin hulle ballinge is – mense wat die beloofde land verloor het, wat deur vreemde heersers oorheers word teen die agtergrond van hulle eie koninkryk wat stukkend en ten gronde lê. Hulle bevind hulle in die konteks van wanhoop, in die lewensgevoel van verlies en van disoriëntasie. Dít is die konteks waarin hierdie woorde van hoop uitkristalliseer. Hoor mooi – hierdie woorde: “Ek weet wat ek vir julle beplan – voorspoed en nie teenspoed nie, ʼn toekoms en ʼn verwagting” – word gespreek in die konteks waar geen voorspoed, geen toekoms en geen verwagting is nie.

Dus, God se mense het dit nie altyd goed en maklik gehad nie. Swaarkry is met ander woorde nie by implikasie vir gelowiges uitgesluit nie. In 2 Korintiërs 1:8 vertel Paulus hoe swaar hy gekry het vir die evangelie en dat hy op tye gedink het hy gaan dit nie oorleef nie.

Die Bybel sê nêrens dat dit by implikasie altyd met ʼn gelowige goed en voorspoedig sal gaan nie. Inteendeel! In Johannes lees ons dat Jesus vir die dissipels sê in hierdie wêreld gaan hulle dit juis moeilik hê (Johannes 16:33) omdat die duiwel, die moordenaar van die begin, en sy agente op aarde (mense wat hom volg) op hulle spoor is (vgl. Johannes 8:44).

Wat die Bybel wel sê, is dat God juis daar is in die midde van tye waarin dit nie goed gaan nie. Vat maar net vir Job. As dit sleg gaan met Job is God nog steeds naby. Dink maar ook aan Openbaring waar dit duidelik is dat geweldige vervolging en swaar tye (kyk ook 2 Timoteus 3:1) in die eindtyd die wêreld gaan tref, en dat gelowiges ook nog op aarde gaan wees as dit gebeur. Tog verseker Openbaring ons dat God in beheer is en dat Hy op die tyd wat Hy bepaal, gaan ingryp.

God weerspreek dus nie homself as hy op een plek sê hy beplan vir ons voorspoed en op ʼn ander plek lyk dit of dit weer sleg gaan met die mense van God nie.

Hierdie kant van die hemel, so lank ons nog op aarde is, gaan slegte goed gewoon gebeur. Dit is onlosmaaklik deel van hierdie gebroke werklikheid. Sommige daarvan is ʼn direkte gevolg van ons eie sonde, byvoorbeeld as ons te veel drink en dan op die hoofweg gaan jaag en iets oorkom. In Johannes 3:19 lees ons dat die Lig na die wêreld gekom het, maar dat mense die duisternis liewer gehad het as die Lig en daarom kry mens dit op hierdie aarde dat bose en slegte dinge nog steeds gebeur – nie omdat God nie in beheer is nie – maar omdat mense teen die lig gekies het en die duiwel mag gee. Ander kere gebeur dinge met ons en dit was glad nie ons skuld nie…

 

Wat in al hierdie gevalle egter konstant is – is dat God soos ʼn liefdevolle Vader vir ons oneindig liefhet en dat sy hart van genesing, restourasie en herskepping polsend vir ons klop. In die konteks van ons seer en ons gebrokenheid is Hy die groot Geneesheer wat ons lewens, ons menswees en ons situasies kan en wil restoureer. In Johannes lees ons sommer baie van die woord “lewe”. God is die God van lewe wat vir ons ʼn lewe in oorvloed wil gee (Kyk Johannes 10:10). Ons moet ook altyd onthou dat die ware lewe wat hy wil gee op aarde slegs die voorsmaak is van die hemelse lewe wat Hy vir ons beplan. Uiteindelik sal God ons neem na ʼn plek en ruimte wat Hy vir ons voorberei het waar geen pyn, geen gebrokenheid en geen hartseer gaan wees nie. Daarop vertrou ons – en dit gee ons hoop dat ons seisoen van pyn hier tydelik is, maar ons lewe in die hemel vir ewig gaan wees…

 

Outeur: Dr Kobus Kok