Wees meer soos Jesus Christus

 

 “The truth is like a lion; you don’t have to defend it. Let it loose; it will defend itself.” (Augustinus)

 

Wees meer soos Jesus Christus

Daar is ‘n toenemende ideologiese polarisasie in ons samelewing. Ed Stetzer sê dat dit aan ons die geleentheid gee om meer soos Jesus te wees. Die wêreld word meer sekulêr, maar die gelowiges bly toegewyd. Wat interessant is, is dat baie sogenaamde nominale Christene die Christelike etiket afskud. Die vraag is: Hoe moet ons as Christene in hierdie gepolariseerde samelewing leef?

 

In ‘n kultuur wat toenemend gepolariseerd is, word Christene se siening meer ongewild. Die versoeking om ons op drastiese maniere te verdedig neem toe. Maar Christene moet altyd hulle roeping om meer soos Jesus te wees onthou. Hier is drie maniere waarop ons dit kan doen.

 

  1. Luister beter na mense wat van ons verskil

Ons is vinnig om mense wat van ons verskil te veroordeel. Ons leef nie meer in ‘n Christelike nasie nie. Ons moet met sekulêre mense begin praat oor hoe ons in vrede kan saamleef. Hoe voel ongelowiges om tussen gelowiges te woon? Ons volg ‘n Persoon, Jesus,  wat ons beveel het om die wêreld van Hom te vertel. As ons aanhou skreeu op mense, sal ons hulle nie kan vertel van Jesus wat gekom het en vir hulle aan die kruis gesterf het nie. Niemand hou daarvan as daar op hulle geskreeu word nie.

 

  1. Ons moet mense ten spyte van ons verskille liefhê

Christus sê dat ons ons naaste soos onsself moet liefhê; ons moet ander behandel soos onsself behandel wil word. Ons moet leer om saam met ongelowiges te leef ten spyte van groot verskille. Ons kan nie mense liefhê as ons nie na hulle wil luister nie. Ons kan tog nie so bang wees om die sondekiem op te tel dat ons weier om saam met ongelowiges te eet nie. Die kerk is nie juis daarvoor bekend dat hy mense wat van hom verskil, liefhet nie. Die neiging is om buitestanders buite te hou. Ons kan nie mense terselfdertyd haat en bereik nie. Oppas vir woorde wat seermaak en verdeeldheid bring. Dit maak deure toe. Jesus het na mense soos Saggeus en die Samaritaanse vrou uitgereik wat van Hom verskil het.

 

  1. Lei mense om te verstaan wat ons glo

Ons het weer ‘n passie vir evangelisasie nodig – maar evangelisasie gebou op verhoudings. Die wêreld moet weet ons verskil in wat ons glo, maar ook in hoe ons optree. Leef die soort lewe wat aan ons geloofwaardigheid gee. Werk ons hard genoeg om te verseker dat mense ons aan ons liefde sal herken?

 

Ons staan by ‘n keerpunt – belangrik, maar nie ontmoedigend nie. Soos die samelewing meer sekulêr word, sal die kontras met Christene net duideliker word. Sal die verskil tussen die twee wees dat Christene bereid is om te luister, om soos Jesus lief te hê, om mense na Hom te lei of sal die verskil iets anders wees? Jesus se weg is altyd die beste weg.