Wees versigtig om nie te val nie

 

Let us abhor all onesidedness, all exaggeration of one truth and disparagement of another – C.H. Spurgeon

 

Wees versigtig om nie te val nie

[Eksodus 32:1 – 9]

Hoekom verval Israel in afgodery? Vir dieselfde redes as wat ons verval.

  • Ons val as ons nie God se woord gehoorsaam nie

Die volk vra vir Aäron om vir hulle ‘n god te maak. Hulle was tog veronderstel om die tien gebooie te ken. Jy mag naas My geen ander gode hê nie – die heel eerste gebod. En: Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie – die tweede gebod. Hulle verontagsaam God se duidelike gebooie. Kort vantevore het hulle gesê: Ons sal alles doen wat die Here beveel het (24:3).

 

Die mens wil nie vertel word wat om te doen en wat om nie te doen nie. Ons kry dit reeds met Adam en Eva in die paradys. Ons wil nie onder gesag staan nie. Wat die Israeliete hier doen is teenstrydig met God se opdragte. Hulle harte verlang nog terug na Egipte.

 

Hierdie gedeelte beklemtoon dat dit belangrik is om God te ken vir wie Hy werklik is – nie hoe ons dink Hy behoort te wees nie. Aanbidding berus op die regte persepsie van God soos dit in die Skrif geopenbaar word. The essence of idolatry is the entertainment of thoughts about God that are unworthy of Him (A. W. Tozer)

 

  • Ons val as ons nie die doel van God vertrou nie.

Hoekom bou hulle die afgod? Hulle raak gefrustreerd met Moses se lang afwesigheid. In plaas van vertrou op God se doel, beweeg hulle aan. Om God nie te vertrou nie, is sonde. Hulle het tog geen rede gehad om God te wantrou nie – dink net aan al die wonderdade en sy voorsiening aan hulle behoeftes tot op hierdie punt.

 

God het nie vir ons ‘n volledige plan vir ons lewens gegee nie. Hy sê: “Ek sal met jou wees. Vertrou my; vertrou my tydsberekening.” As ek dinge op my manier en op my tyd probeer doen, val ek in sonde. Vertrou op God se goedheid en wag vir Hom.

 

  • Ons val as ons die genade van God vergeet.

Die volk moes die goue oorringe na Aäron toe bring dat hy vir hulle ‘n beeld kon maak. Waar kom hierdie oorringe vandaan? God het dit vir hulle gegee toe hulle Egipte verlaat het. Die oorsprong van die goud is God se oorwinning. Wat God vir hulle gegee het, gee hulle vir ‘n afgod. By Horeb het hulle ‘n kalf gemaak, voor ‘n god van metaal gekniel. Hulle het die magtige teenwoordigheid van God verruil vir die beeld van ‘n bees wat gras vreet. So het hulle God, hulle redder, vergeet, Hy wat die groot dinge in Egipte gedoen het (Psalm 106:19 – 21).

 

  • Ons val as ons nie ons gawes vir die heerlikheid van God gebruik nie

Ons moet God se gawes geniet; ons moet dankbaar vir sy gawes wees; ons moet sy gawes gebruik om die koninkryk van God te bou – nie vir afgode nie. Om hierdie goue kalf te bou, vereis vaardigheid en tyd. In plaas van hulle vaardighede, tyd en goud te gebruik om God te verheerlik, gebruik hulle dit vir ‘n afgod. Vraag: Gebruik ons God se gawes – ons tyd en talente en geld – vir sy heerlikheid?

 

Baie mense wil verlos word en “hemel toe gaan,” maar hulle wil steeds aan hulle afgode vashou. Israel het vergeet wie hulle uit Egipte gered het. Ons moenie vergeet nie. Moenie ophou om God vir sy genade te dank nie.

 

  • Ons val as on die aanbidding van God verwring

Hierdie hele episode is ‘n beeld van verwronge aanbidding. Hulle doen alles op hulle en nie op God se manier nie. Kyk net hierna:

  • Hulle en nie God nie, neem die inisiatief.
  • Offers word geëis en nie vryelik gegee nie.
  • Hulle berei hulle nie voor vir aanbidding nie.
  • Die onsigbare God is vir ‘n sigbare god verruil.
  • Die persoonlike, lewende God is verruil vir ‘n dooie afgod wat nie kan sien of praat nie.

Ten opsigte van hulle aanbidding doen hulle wat gewild en nie wat reg is nie. Vandag wil ons nie meer aanbid soos die Skrif sê nie. Die gevolg is dat dié wat luister verbruikers geword het. Hulle word gelei deur mense soos Aäron wat vir die mense gee wat hulle vra. God se manier van aanbidding plaas die evangelie in die middelpunt. Die doel van aanbidding is die verheerliking van God. Die mense wou die goue kalf gehad het. Die kalf kon nie praat nie; die mense het nie die kalf gevrees nie; die kalf kon gemanipuleer word vir jou eie voordeel. Mense soek nie ‘n heilige God wat hulle soek en konfronteer nie. Is jou aanbidding vir God aanvaarbaar?

 

  • Ons val as ons die heerlikheid van God verruil.

Hulle aanbid ‘n dier wat hulle gemaak het in plaas van vir Hom. Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas. In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ‘n verganklike mens of soos voëls of diere of slange. Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer. Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig (Romeine 1:22 – 25). Mense neem ‘n goeie ding en verander dit in ‘n god en eindig met ‘n verkeerde lewe. Die mens sal iets aanbid: sal dit ‘n skepself of die Skepper wees.

 

Wat kan ons doen om te verhoed dat ons val? Aanbid God. Ons word al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Korintiërs 3:18). Dit is hoe ons verander word: ons verander na die beeld van wie ons aanbid.