Wêreldsiening: Het God met mense gekommunikeer?

image_pdfimage_print

Christ’s truth is seldom made a nation’s property, and kept a nations property, without pains, without struggles and without trouble.

 

Wêreldsiening: Het God met mense gekommunikeer?

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

 

‘n Persoonlike wese het die vermoë om te kommunikeer. Mense kommunikeer met mekaar en hulle doen dit op verskillende maniere. Natuurlik kan God kommunikeer as Hy wil. Het Hy al gekommunikeer? Ja. Ons verwys hierna as God se openbaring. Dit is tog wat ons van ‘n persoonlike Opperwese sou verwag. Sy openbaring is in die openbaar: God het met mense individueel en kollektief gepraat – deur profete en deur sy geïnspireerde woord. Alle mense kan God se kommunikasie hoor of lees. Dit is nie ‘n geheime, private openbaring nie.

 

Mistisisme is die wêreldsiening wat die bestaan van God bevestig, maar die idee dat God met mense deur ‘n oop en openbare openbaring gekommunikeer het, verwerp. Hiervolgens praat God altyd met mense privaat en individueel. Dus: net ek kan weet wat God vir my gesê het. Wat God vir my sê, mag dan ook verskil van wat Hy vir jou sê. Hulle mag aanvaar dat God deur die Bybel praat, maar die hoogste en belangrikste kennis kom deur ‘n direkte, persoonlike ondervinding van Hom. Hulle glo ook dat as God deur die Bybel met mense praat hy dit op verskillende maniere vir verskillende persone doen. Met dieselfde teks kan God iets aan my kommunikeer en iets totaal anders as iemand anders. Die ware woorde van die Bybel is aan almal beskikbaar, maar wat God deur hierdie woorde wil kommunikeer is altyd privaat en individueel.

Vir baie mense is hierdie siening aantreklik, want dit impliseer dat God aan elkeen van ons persoonlike aandag gee. Daar is ook nie ‘n tekort aan mense wat daarop aanspraak maak dat hulle direkte, privaat openbarings van God ontvang het nie! Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat God dit as sy primêre vorm van kommunikasie sou kies. As God iets aan mense as ‘n groep wou kommunikeer, sou Hy eerder ‘n oop en openbare  wyse verkies het – dit sou tog net meer gepas en prakties gewees het.

Die probleem met mistisisme is dat ons geen manier het om tussen teenstrydige aansprake te oordeel nie. Hoe weet ons nou wat God van ons verwag? Ons het tog ‘n openbare en objektiewe manier nodig om te bevestig wat God aan ons gekommunikeer het. Nou is dit altyd my woord teen jou woord. Dit lei tot godsdienstige anargie. Dit is tog nie die toestand waarin God wil hê ons moet wees nie.

Het God openlik met mense gekommunikeer? As ons glo dat God ‘n persoonlike Opperwese is, sou ons verwag dat Hy openlik met ons sal kommunikeer. God praat met mense openlik en kollektief (deur profete en die Bybel), eerder as in die geheim en individueel. Dit mag wees dat sekere mense nie direkte toegang tot God se openbaring het nie, maar in beginsel kan alle mense God se openbaring hoor of lees. Dit is nie ‘n geheim of verborge of privaat nie – dit is vir almal beskikbaar. God is nie soos ‘n onderwyser wat privaat lesse vir sy leerlinge gee nie.

Volgende keer gaan ons oor nog ‘n belangrike vraag praat: Het Jesus uit die dood opgestaan?

image_pdfimage_print

You may also like...