Wêreldsiening: Is daar meer as een geldige godsdiens?

 

There are scores of people occupying our pews and benches every Sunday, who know nothing whatever abour religion (J. C. Ryle)

 

Wêreldsiening: Is daar meer as een geldige godsdiens?

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

Daar is ‘n groot verskeidenheid godsdienste in die wêreld – en hulle word elke dag meer. Mense het ‘n natuurlike godsdienstige impuls. Daar is meer as 20 godsdienste met meer as ‘n miljoen aanhangers. Ateïste glo al hierdie godsdienste is verkeerd. Ander sê dat net een godsdiens reg kan wees – Christene glo dat die Christelike godsdiens die enigste ware godsdiens is. Moslems sê dieselfde van Islam. ‘n Idee wat vandag veld wen, is dat meer as een godsdiens reg kan wees.

Die verskillende godsdienste verteenwoordig diverse, maar geldige perspektiewe op die mens se uiteindelike werklikheid. Elke mens interpreteer die geheel volgens sy eie individuele – beperkte – perspektief.

Die ou beeld van die blinde mense wat die olifant betas, geld. Elkeen weet net ‘n deeltjie van die geheel en daarom is almal reg.  Is daar meer as een geldige godsdiens?

Pluralisme is die siening dat daar meer as een geldige godsdiens is. Geen enkele godsdiens het ‘n monopolie op die waarheid nie. Elke godsdiens verteenwoordig ‘n verskillende, maar wettige, perspektief. Elke godsdiens het ‘n onderskeidende siening van God, die waarheid, verlossing, ens. Almal is geldig. Geen godsdiens het ‘n monopolie op verlossing nie. Daar is baie paaie die berg op en almal kom bo uit.

Pluralisme se gewildheid neem toe, want mense word moeg van godsdienstige geweld en onverdraagsaamheid. Pluralisme bevorder ‘n gesindheid van leef en laat leef. Hulle verkondig verdraagsaamheid teenoor alle godsdienste. Die belangrikste godsdienste maak aansprake wat onversoenbaar met mekaar is Hierdie aansprake lê dikwels sentraal in hierdie godsdienste.

Pluralisme sê dat hierdie konflikte opgelos kan word deur al hierdie aansprake as figuurlik en nie letterlik te beskou nie. As Christene sê dat die Bybel die woord van God is, beteken dit dat Christene die lees van die Bybel leersaam vind. Dit is nie wat die aanhangers van die verskillende godsdienste daarmee bedoel nie. Pluralisme is net so eksklusief en onverdraagsaam soos ander godsdienste – dit kan geen godsdiens wat hulle perspektief op godsdiens verwerp, aanvaar nie.

Om hierdie siening – pluralisme – te hanteer, moet ons ‘n baie belangrike vraag antwoord: Is daar ‘n God?