Wette en strawwe 1

Wette en strawwe 1 – Jan van der Watt

In die Bybel lees ons dikwels van vreeslike strawwe en dat die koning sommer op sy eie besluit om ‘n stad te verwoes of mense dood te maak. Dit druis vir ons in teen wat ons voel liefde is, iets wat eie is aan die boodskap van Jesus. In die volgende paar stukkies oor ‘wet en straf’ gaan ons kyk hoe wette en straf in die Bybelse tyd gewerk het. Ons moet altyd onthou dat die Bybel in ander tye en kontekste geskryf is en dat ons dit eers binne daardie kontekste moet verstaan. Dan kan ons vra hoe dit op vandag toegepas moet word (ons noem die proses hermeneutiek).

Wat was die basis van die denke oor wette in die omgewing waar die Bybel geskryf is, veral die Ou Testament? Die reg was in die hande van die koning – hy was die oppergesag. Een van sy hooftake was om te sorg vir reg en geregtigheid en daarom was hy ook die regter. God word ook dikwels die regter geteken wat op ’n troon sit, omdat Hy as Koning van sy Koninkryk regeer. Sy wil is wet, want Hy is die koning. So het God ook uitdruklik deur die Wet van Moses aangedui wat sy wil vir sy mense is.

Die gewone wette waarvolgens mense geleef het, was meestal maar deel van die tradisie wat deur geslagte oorgelewer is. Mense het dit van hulle gemeenskappe geleer en dit so aan hulle kinders deurgegee. Soos situasies verander het, is die wette wel aangepas, maar dit was meer ’n kwessie van nuwe toepassing as aanpassing of verandering.

In sommige gevalle kon ‘n volgende koning van die reëls verander, maar dit het gewoonlik nooit regtig teen die breë gang van die wette ingedruis nie. Toe Jesus gekom het, het Hy nie die wet tot niet kom maak nie (Matt 5), maar het juis die kern van die wet, naamlik, liefde kom beklemtoon. Binne die situasie van sy liefde, het Hy die wet innoverend in ’n nuwe lig kom stel.

In gevalle soos die Tien Gebooie is daar ’n standaard groep wette gegee waarvolgens die gemeenskap moes leef. In die geval van die Tien Gebooie moes die wette in verskillende situasies toegepas word, wat beteken het dat die priesters en later die wetsgeleerdes reëls moes maak oor hoe die wette verstaan moes word. Byvoorbeeld, as daar staan dat jy die Sabbat moet heilig, wat beteken dit? Dit moes met lyste van reëls verduidelik word. So sal mense byvoorbeeld vir die lam man wat gesond geword het, sê hy mag nie sy bed op die Sabbat dra nie of vir Jesus dat Hy nie mense op die Sabbat mag gesond maak nie (Joh 5). Dit was alles reëls wat gemaak is om te help om die Sabbatswet beter te verstaan.

Toe die Romeine natuurlik Judea ingeneem het, was daar ’n botsing van wette. Die Romeine het ’n sterk stelsel van wette gehad wat hulle oral toegepas het (ons gebruik vandag nog Romeins-Hollandse wetsisteme in Suid-Afrika). Dit het in botsing gekom met van die lokale wette. Daarom het die Romeine besluit om van die lokale wette toe te laat, mits dit nie met die Romeinse wette bots nie. Die Joodse Raad (Sanhedrin) het so beperkte wettiese mag gehad (lees gerus Joh 18, veral verse 28-31).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt