Wie is welkom aan jou tafel?

God would never permit evil, if He could not bring good out of evil. —Augustine

Wie is welkom aan jou tafel?

Jesus het sekerlik besef dat die tollenaars hulle mense verraai het deur die Romeinse  besetters van sy tuisland te help, maar Hy het hulle aan sy tafel verwelkom. Jesus het sekerlik besef dat die vals godsdienstiges die hart van God vir sy mense  verdraai het en ‘n swaar las op die mense geplaas het,  maar Hy het saam met hulle geëet en hulle uitgenooi om deel te neem aan die koninkryk van sy Vader.

Jesus was sekerlik bewus van Petrus se humeur, van Johannes en Jakobus se oordrewe nasionalisme en van Judas se verdeelde motivering, maar Hy het saam met hulle brood gebreek.

 Jesus verwelkom elkeen aan sy tafel – uitgeworpenes, vyande, want Hy verander hulle in familie. Hy eet en drink met hulle. Niemand word weggewys van sy tafel nie. Maar hierdie sondelose, volmaakte verteenwoordiger van God se hart het nooit sy standaarde laat sak nie; Hy het nie ongeregtigheid verswyg nie. Maar, aan sy tafel was almal welkom.

 Hy stel ‘n voorbeeld vir ons om na te volg. Op sy pad van Galilea na die kruis stop Hy elke dag om te eet en te drink en elke dag verwelkom Hy sy vyande aan sy tafel. Aan die kruis het Hy gedoen wat net Hy kon doen; aan die tafel wys Hy vir ons wat ons kan doen. Hy weier dat verskille Hom van ander skei. Wie is aan ons tafel welkom?