Wie kan teen ons wees?

 

To love someone is to show them their beauty, their worth, and their importance –Jean Vanier

 

Wie kan teen ons wees?

God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? (Romeine 8:31)

‘n Mens kry die indruk dat Paulus diep asemhaal nadat hy Romeine 5:1 – 8:30 geskryf het en dan vra: Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dit: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? (Romeine 8:31). Die tweede vraag is retories – dit is eintlik ‘n voorstel: “Aangesien God vir ons is, kan niks teen ons wees nie.” Paulus ondersteun dit wat hy sê met vier bewyse.

 

Bewys #1: God sal in sy genade vir ons alle dinge gee

Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie (8:32).

Paulus redeneer hier van die grootste na die kleinere. Hy gee aan ons die grootste gawe – sy Seun – en daarom sal Hy ook vir ons al die ander dinge wat ons nodig het, gee. Dit is ‘n bewys dat as God vir ons is, niks teen ons kan wees nie.

 

Bewys #2: Niemand sal ons aankla nie

Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry (8:33)

Niemand kan ons voor God na ‘n hof neem en sy saak wen nie, want God self het ons vrygespreek. Nog ‘n bewys dat as God vir ons is niks teen ons kan wees nie.

 

Bewys #3: Niemand kan ons veroordeel nie

Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons (8:34).

Niemand kan ons op die oordeelsdag veroordeel nie, want Jesus het vir ons gesterf en Hy is uit die dood opgewek. Hy sit nou aan God se regterhand van waar Hy vir ons intree. Ons sekuriteit is vas, want dit is in Hom. Nog ‘n verdere bewys dat as God vir ons is, niks teen ons kan wees nie.

 

Bewys #4: Niks sal ons van die liefde van Christus skei nie

In Romeine 8:35 – 39 lees ons dat nie lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard ons van die liefde van God kan skei nie.

 

Wie kan dan teen ons wees? Dit is die vraag wat Paulus in vers 31 gevra het. Daarna gee hy vir ons vier bewyse om te wys dat niemand of niks teen ons kan wees as God vir ons is nie.. Ons het tog nie verdere bewyse nodig nie.