Wolwe in skaapsklere

Wolwe in skaapsklere

Pas op vir die vals profete.  Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe  (Matteus 7:15)

Die Bybel waarsku ons ook dat die vals profete sal toeneem in die laaste dae (Matteus 24:11). Dit beteken dat ons moet leer om ‘n wolf in skaapssklere te identifiseer. Ons moet dit doen, nie om te oordeel nie, maar om onsself en ander skape om ons te beskerm. Baie mense word deur wolwe verskeur, want hulle glo die beste in mense. Moenie altyd die slegste in mense verwag nie, maar wees wys.

 

Die probleem met wolwe in skaapsklere is dat hulle van ver net soos skape lyk. Eers as hulle naby kom herken jy hulle as wolwe. Hoe kan jy die verskil raaksien?

  1. Wolwe het ‘n probleem met geestelike gesag. Jesus het gesag geken en erken. Ware profete is nie opstandige mense nie. Hulle verstaan gesag. Wolwe sal dit natuurlik ontken, maar hou hulle noukeurig dop.

 

  1. Wolwe sal probeer om jou te manipuleer en te beheer. Wolwe kan baie aangenaam wees solank hulle dink dat hulle jou kan beheer. Hulle sal jou probeer intimideer op ‘n taktvolle manier, sodat jy dit nie agterkom nie. God manipuleer en beheer niemand nie’

 

  1. As wolwe in ‘n geveg betrokke raak, loop die bloed. As hulle eers bloed geproe het, gaan hulle daarvoor in hulle argumente. Hulle word skielik gewelddadig. Hulle bedek hulle optrede onder ‘n wolk van Christelike cliché’s. Jou vyand is nie die persoon nie, maar die duiwel. Hierdie is ‘n geestelike saak.

 

  1. Wolwe tree op ‘n sekere manier op by mense wat hulle dink saak maak, maar agter geslote deure verander hulle skielik.

 

  1. Daar is verrotte vrugte in die lewe van ‘n wolf. Ons moet leer om die geestelike vrugte van ander te evalueer. Is hulle mense van vrede, geduld teerheid en selfbeheer? Is hulle voortdurend besig om chaos te veroorsak.

 

  1. Wolwe is dikwels akkuraat in hulle geestelike gawes. Net omdat iemand geestelike gawes het, maak dit hom nie ‘n gestuurde uit die hemel nie. Hou hulle lewens dop.

 

  1. Wolwe begin nie altyd as wolwe nie. Hulle het iewers langs die pad afgedwaal. Hulle laat sukses moraliteit vervang. Hulle glo dat hulle deur God gebruik word, maar die vrugte is nie daar nie. Hulle is nie so ver heen dat hulle nie na God kan terugkeer nie. Hulle moet egter eers deur ‘n snoeiproses gaan.

 

Wolwe kan ingewikkeld wees. Bid vir hulle. Hanteer hulle soos God jou lei. Wees wys en hou aan vorentoe beweeg.