Wonders: Die moontlikheid van wonders

“I pray that you all put your shoes way under the bed at night so that you gotta get on your knees in the morning to find them. And while you’re down there thank God for grace and mercy and understanding. We all fall short of the glory, we all got plenty,” Denzyl Washington

 

Wonders: Die moontlikheid van wonders

Wonders is, per definisie, oortredings van die natuurwette. Daarom glo baie wetenskaplikes dat wonders nie kan plaasvind nie. Kom ons kyk na die sentrale aanspraak van die Christelike geloof: Jesus het uit die dood opgestaan. Is daar die moontlikheid van ‘n wonder? Dit is tog nie ‘n natuurlike verskynsel nie. As ons wil weet of iets ‘n wonder is, moet ons  die wet ken waarvan hierdie wonder ‘n uitsondering is. As ons nie weet dat mense wat doodgaan in hulle grafte bly nie, sal ons nie weet dat Jesus se opstanding ‘n wonder is nie.

 

Wat dan van die mense wat sê dat hulle vir Jesus na sy opstanding gesien het? God kan tog nie arbitrêr optree en die natuurwette oortree deur Jesus op te wek nie. Ateïste sê dit is net die beskawings wat voor die moderne wetenskap geleef het wat in wonders glo. So byvoorbeeld gebeur die wonders in die Nuwe Testament in ‘n primitiewe, pre-wetenskap kultuur waar mense onkundig was oor die natuurwette. Maar mense het tog geweet dat dooie mense nie weer lewe nie.

Josef wat aan Maria verloof was, het geweet waar babas vandaan kom. Toe Maria sê dat sy swanger is, wou hy van haar skei. Hy was nie onkundig oor die natuurwette nie. Later is hy bereid om met Maria te trou, want hy is oortuig dat die baba uniek bevrug is – deur die Heilige Gees. So kry ons ook dat toe Paulus in sy toespraak voor die filosowe in Atene sê dat Jesus uit die dood opgestaan het, hulle vir hom gelag het. Hulle sou nie gelag het as Paulus net na die opstanding van die siel verwys het nie, want dit was ‘n aanvaarbare siening. Maar Paulus sê iets wat niemand van hulle geglo het nie – die fisiese, liggaamlike opstanding van ‘n mens wat dood was.

As wetenskaplike glo jy in die natuurwette. God is verantwoordelik vir hulle; Hy het ‘n ordelike heelal gemaak. As dit nie so was nie, sou ons nooit ‘n uitsondering herken het nie. Maar God is nie ‘n gevangene van die natuurwette nie. God kan ‘n nuwe gebeurtenis van buite in die sisteem invoer. Christene maak nie daarop aanspraak dat Jesus deur een of ander natuurlike proses opgestaan het nie – dit sou die natuurwette oortree. Nee, Christene sê dat Jesus opgestaan het, want God het enorme energie en krag van buite die sisteem ingevoer. Omdat die sisteem nie ‘n totaal geslote sisteem is nie, kan wonders wel plaasvind.

As wonders dan moontlik is, bring dit ons by die volgende vraag: Is wonders ‘n werklikheid? Is daar enige bewyse dat wonders ooit gebeur het? Die Christelike geloof se basis is dat Jesus Christus na sy dood opgestaan het. Dit klink tog onwaarskynlik. Is daar bewyse daarvoor? Die wetenskap en die geskiedenis  is nie die enigste bewysbronne vir die bestaan van God, wonders en die bonatuurlike nie. Persoonlike ondervinding is ook belangrik. ‘n Bewys dat die Christelike geloof waar is, is onder andere die persoonlike ondervinding van die lewende werklikheid van Christus in ons lewens. Hy het uit die dood opgestaan – dit beteken Hy lewe en dat mense ‘n persoonlike verhouding met Hom kan hê.

Hoe benader ek mense wat nie omgee nie – hulle glo nie? Sorg vir hulle. As mense nie omgee nie, is daar gewoonlik ‘n rede daarvoor en dit is dikwels ‘n ingewikkelde sielkundige rede. Mense wat in ‘n ouerhuis sonder liefde groot geword het, sukkel om te glo in ‘n God wat vir hulle lief is – dit beteken vir hulle niks nie. Mense wat nie omgee nie, vertel vir ons iets van hulleself. Daarom moet ons uitvind hoekom hulle nie omgee nie.

God stel baie belang in mense wat nie omgee nie, want hulle het gewoonlik ‘n goeie rede waarom hulle nie omgee nie. Ons word tog van kleins af geleer dat elke mens waardevol is – gemaak na die beeld van God. As daar ‘n God is wat vir jou omgee, maar jy gee nie vir Hom om nie, is daar iewers iets verkeerd. Dikwels is dit omdat jy ‘n negatiewe ondervinding van godsdiens gehad het. Vind uit.