Woorde uit die Bybel – Versoening

Peter Marty

Woorde uit die Bybel – Versoening

Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

Versoening beskryf die verlossingswerk wat God deur Jesus se kruisdood bewerkstellig het. Letterlik beteken versoening ‘n verandering van ‘n verhouding – van vyandskap na vriendskap. Versoening bring mense bymekaar wat voorheen nie vriende was nie. Paulus beskryf dit so in Kolossense 1:19 – 22: God het mos self besluit om volledig by sy Seun te wees. Hy het daarvoor gesorg dat alles in die skepping weer in die regte verhouding met Hom gestel word. Hy is mos die doel waarom alles geskep is. Dit het Hy gedoen deur die onderlinge verhoudings in die skepping weer reg te stel, of dit nou op die aarde of in die hemel is. Dit het nie sommerso gebeur nie. Dit was duur. Dit het Hom sy bloed gekos wat aan die kruis geloop het.

Hoekom het daar ‘n breuk tussen God en die mens gekom? As gevolg van sonde. Nou moet ons nederig en in geloof die versoening wat God reeds in Jesus Christus bewerkstellig het, aanvaar. Versoening beteken dat daar vooraf vervreemding was. Sy dood het ons in die regte verhouding met God gebring toe ons nog aartsvyande van Hom was. Hoeveel te meer sal ons dan nie deur die lewende Jesus van die oordeel van God gered word nie (Romeine 5:10).

Hoe moet ons versoening verstaan?

  • Versoening kom deur die bloed van Jesus Christus – sy offer.
  • As gevolg van die bloed van Jesus Christus is daar weer vrede tussen God en mens. As God so ongelooflik goed vir ons is deur ons van ons sondes vry te spreek omdat Christus se bloed in ons plek gevloei het, hoef ons nie meer vir sy oordeel bang te wees nie (Romeine 5:9).
  • Dit is God wat die wêreld met Homself versoen – Hy neem die inisiatief: Maar God is heeltemal anders as ons. Hy wys juis hoe lief Hy ons het deurdat Jesus in ons plek doodgegaan het toe ons nog almal ‘n spul sondaars was (Romeine 5:8).

Dit is egter belangrik dat ons God se versoening moet aanvaar: Ek smeek julle in die Naam van Christus, laat toe dat God die vyandskap tussen Hom en julle wegvat. Aanvaar hierdie versoening as ‘n geskenk uit sy hand (2 Korintiërs 5:20). As ons die versoening ontvang, ontvang ons ook die Versoener. Jesus Christus het die taak van versoening op Golgota voltooi. Ons moet dit net aanvaar.

Die volgende woord waarna ons gaan kyk, is genade.