Word lidmate geïgnoreer?

Word lidmate geïgnoreer? – Francois Malan

‘n Leser vra: 

Is dit normaal vir NG Kerk leraars om die hulpkrete van n lidmaat te ignoreer ? Wat staan my te doen as hulle op eie houtjie besluit het dat hulle nie na my wil luister nie omdat ek dalk die heilige vrede van hulle kerk mag versteur – of ek nou reg of verkeerd is – dit reg of verkeerd aanvoer – die ketter wat sy letter in die Bybel kry of nie ? Ek is tydens ‘n onheilige egskeiding wat deur bose magte aangevoer is, deur die ouderling-prokureur gewetenloos/ongeregverdig vir eie gewin van sy kliënt verbied om in die kerk te kom – drie jaar gelede en nog nooit deur enigeen van die kerk daaroor genader of bespreek nie – kennis daarvan deur die leraar ten spyt. Ek dwaal buite rond en het ‘n afsku in die valse wêreldse kerk en valse predikante opgebou. Ek word geïgnoreer soos n stopstraat asof ek nie bestaan nie – my lidmaatskap ten spyt – ek is nie belangrik genoeg en het status in daardie kerk nie.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die woord ‘kerk’ beteken ‘(die mense) wat aan die Here behoort’ of ‘die Here s’n (sy mense)’. Ons status in die kerk is ‘kinders van God’. Ons status is afhanklik van Jesus Christus. Hy is die Seun van God wat vir die sonde van die wêreld gesterf het aan ‘n kruis. Van Hom sê Jesaja 53:3 ‘Hy was verag en deur die mense verstoot… Tog het hy óns lyding op hom geneem…Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel, die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.’ (Jesaja 53:3a,4a,5-6). Hierdie profesie van Jesaja is deur Jesus vervul (vgl. Matteus 8:17). Petrus verwys onder andere hierna in Handelinge 10:43: ‘Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.’ Die Heilige Gees van God werk in elkeen van ons, om ons deur geloof aan Jesus te verbind, aan sy offer vir ons sonde, en aan sy status as Kind van God (vgl. Romeine 8:14-17).

Al ignoreer mense ons, ons hemelse Vader nie! Romeine 8:31b, 35,38,39 sê: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?’ … niks kan ons skei van die liefde van Christus nie… ‘geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.’

Jou vraag: ‘Wat staan my te doen…’ Jakobus 4:6,7a,8a,10 sê: ‘God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade (vgl. Spreuke 3:34; 1 Petrus 55b). Onderwerp julle dan aan God…Nader tot God en Hy sal tot julle nader…Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.’ 1 Petrus 5:6,7 sê ook: ‘Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.’

Lê jou hele saak en situasie voor die Here, jou egskeiding, die behandeling wat jy van die kerk se amptenare ontvang het, jou huidige posisie en jou self, en wag op Hom vir ‘n oplossing op sy tyd. Oor die mense wat jou benadeel sê Paulus in Romeine 12:17-19 ‘Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teen oor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God’ – dit is sy reg om te straf, Hy sal vergeld (vgl. Deuteronomium 32:35).

Jou vraag: ‘Is dit normaal…?’ – nie as jy die rol van ‘n ouderling en predikant vergelyk met Petrus se aanwysings in 1 Petrus 5:1-4 nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan