1 & 2 Tessalonisense (4)

1 & 2 Tessalonisense (4) – Francois Malan

ʼn Dankbare lewe

God se opdrag is om Hom in alle omstandighede en ondanks alles te dank. Hy verwag dit van ons en het dit vir ons moontlik gemaak om dit in gemeenskap met Christus uit te lewe. Ons hele lewe is ʼn gebed, want ons is sonder ophou van God afhanklik.

Ons kan altyd vol vreugde leef, omdat ons saam met Christus lewe. Die gemeente moet nie die werk van die Heilige Gees teenstaan nie. Hy verduidelik die wil van God aan ons deur die profesie in die gemeente. Maar die boodskap moet getoets word of dit die één ding wat nodig is, naamlik die onderlinge liefde, bevorder. Bly weg van elke vorm van die kwaad. Sorg dat niemand van die gemeente kwaad met kwaad vergeld nie, maar beywer julle altyd om aan mekaar en aan almal goed te doen en te help (I:5:15-22). So lyk ʼn dankbare lewe.

 

Aanmoediging

Die gemeente word aangemoedig om vas te staan, o.a. deur vas te hou aan die tradisionele leer wat hulle van Paulus-hulle ontvang het deur hulle prediking en briewe (II:2:15). Die Here Jesus is getrou om hulle te bevestig, en Hy sal hulle teen die Bose bewaar. Daarom vertrou Paulus-hulle dat die gemeente sal doen wat hulle hulle opgedra het. Hulle begeerte is dat die Here die gemeente se denke op die liefde van God en die volharding van Christus sal rig, sodat hulle sal volhard om in liefde te lewe (II:3:3-5).

 

Paulus-hulle se gebede en wense vir die gemeente

In II:1:11-12 vertel Paulus-hulle dat hulle altyd vir die Tessalonisense bid, (i) sodat God hulle in staat sal stel om so te lewe dat dit pas by die lewe waartoe Hy hulle geroep het, (ii) dat Hy elke begeerte van hulle om goed te doen, en elke geloofsdaad van hulle sal vervul, deur die krag van die Heilige Gees in hulle. Die doel van dié twee versoeke is: dat die Naam of reputasie van ons Here Jesus Christus geëer word deur hulle lewenswyse, en hulle sy erkenning daarvoor sal ontvang. Dit kan slegs gebeur deur die genadewerking van ons God en die Here Jesus Christus deur die Heilige Gees.

In I:3:10-12 verseker die skrywers die gemeente dat hulle nag en dag ernstig bid dat God en Jesus vir hulle ʼn geleentheid gee om die gemeente te besoek om dit waaraan hulle geloof tekort kom ten volle aan te vul.

Daarom moet hulle vas staan in die Here, in die evangelie wat hulle ontvang het. Paulus-hulle bid dat Christus self, en God ons liefhebbende Vader, die gemeente se harte en wil aanspreek, deur sy genadige en ewige bemoediging, deur goeie hoop in hulle kweek, en deur hulle te versterk in elke goeie werk en elke goeie woord teenoor ander (II:2:15-17).

Die skrywers vra ook die gemeente se voorbidding vir hulle. Twee sake word genoem: (i) dat die woord van God vinnig sal versprei, en geëer word as God se woord, soos dit ook in Tessalonika is; (ii) dat Paulus-hulle verlos word van die korrupte en slegte mense, veral daar in Korinte, want nie almal aanvaar die woord van God in geloof nie. So neem die Tessalonisense deel aan Paulus-hulle se sendingwerk met hulle gebede (I:5:25; II:3:1,2).

Hulle vra die Here om by die gemeente te bly, en altyd en in alle opsigte aan hulle sy vrede te gee, en Paulus sluit met toebidding van die genade van ons Here Jesus Christus (I:5:28; II:3:16,18).

 

Die gemeente en hulle geestelike leiers

Die medegelowiges in Tessalonika word versoek om die mense wat onder hulle werk en hulle in die Here lei en hulle teregwys, te respekteer (letterlik: om hulle te ken en te erken) deur hulle leiding te volg en hulle sorg te aanvaar. Die gemeente word versoek om hulle geestelike leiers, vanweë hulle werk, tot die uiterste met liefde te bejeën. Die gemeente en hulle leiers en die leiers onderling word opgeroep om in vrede met mekaar te lewe. Dit verg liefde tot die uiterste (I:5:12,13; vgl. I:4:9).

 

Die skrywers en die gemeente

Na die skrywers se onwettige mishandeling en gevangenisskap in Filippi, het God hulle nog groter vrymoedigheid gegee om sy evangelie, ten spyte van teenstand, in Tessalonika eerlik en opreg te verkondig, sonder enige bymotiewe. Hulle het nie hulle hoorders gevlei om rykdom of mag of roem te ontvang nie. Maar soos ʼn sagte moeder wat haarself aan haar kinders se sorg en beswil gee, het hulle die evangelie en hulleself aan die Tessalonisense gegee. Soos ʼn vader sy eie kinders onderrig, so het hulle elkeen van die gemeentelede volgens sy/haar besondere behoefte, ernstig gevra, of bemoedig of aangespoor dat hulle lewenswyse sal aanpas by die God wat hulle geroep het om onder sy koningskap te lewe en deel te hê aan sy heerlike krag.

 

Outeur: Dr Francois Malan