1 Korintiërs 15:29

 

“A dead thing can go with the stream, but only a living thing can go against it.” (G. K. Chesterton)

 

1 Korintiërs 15:29

The Gospel Coalition het ‘n afdeling waarin hulle moeilike Bybelgedeeltes verduidelik. Hier is een van hulle.

 

Want anders, wat sal dié bereik wat ter wille van die dooies gedoop word? As dooies hoegenaamd nie opgewek word nie, hoekom word hulle dan ter wille van hulle gedoop? (Direkte vertaling in die Interliniêre Bybel). Hoofstuk 15 is Paulus se groot hoofstuk oor die opstanding.

 

Die doop ter wille van die dooies se betekenis is onseker. Daar is verskeie interpretasies hiervan. Kan ons dit nie net los nie? Nee, want vir die Mormone is dit van belang en Paulus gebruik dit om die opstanding van gelowiges te verdedig.

 

Die eenvoudigste interpretasie is dat sekere Korintiërs plaasvervangend gedoop is vir diegene wat reeds gesterf het. So soek hulle ‘n geestelike voordeel. Daar is egter probleme met hierdie siening

  • Daar is geen presedent vir die die doop vir dooies in die Bybel of die vroeë kerk of selfs in heidense godsdienste nie. Niemand weet wie dit gedoen het en watter geestelike voordeel hulle daaruit wou verkry nie.
  • Dit is ‘n belediging van die Christelike godsdiens. Dit weerspreek die leer van vryspraak deur geloof.

Daar is net geen ander verduideling vir hierdie vers nie.

 

Daar is twee beginsels wat ons moet lei:

  1. Ons stel vas wat ons weet en werk van daar af.
  2. Ons gevolgtrekking moet inpas by die konteks van 1 Korintiërs 15. Paulus het gehoor dat sekere Korintiërs die toekomstige liggaamlike opstanding van die gelowiges ontken het. Jesus se opstanding is ‘n integrale deel van die evangelie. In vers 1 – 12 van hierdie hoofstuk vra Paulus hoe hulle kan sê dat daar nie so iets soos die opstanding van die dooies is nie. Omdat Christene in Christus is, beteken dit as iemand die opstanding van die gelowiges ontken, hy ook die opstanding van Jesus Christus ontken. As Christus nie opgestaan het nie, is Paulus se evangelie vals, is ons geloof tevergeefs en is ons lewe sinloos. Maar Christus het opgestaan en almal wat in Hom is sal die opstandingslewe hê. Christus was opgewek as die eersteling van die gelowiges (vers 12 – 28).

 

Die gedeelte wat volg en by vers 29 begin bevat ‘n reeks ad hoc argumente vir die opstanding. As daar dan geen opstanding is nie, hoekom stel hy hom gereeld aan lewensgevaar bloot? As daar geen opstanding is nie, is dit  beter om te eet en te drink, want môre sterf ons (Vers 30 – 32)?

 

1 Korintiërs 15 gaan oor die opstanding van die dooies en nie oor  die verkryging van verlossing nie. Die Mormone se doop vir die dooies is ‘n volmag vir ‘n afgesterwe persoon wat nie die “evangelie” van die Mormone gehoor het terwyl hy nog geleef het nie.

 

Ons sit steeds met die probleem: waarom laat hulle hulle vir die dooies doop? Dit bly onseker. Waarskynlik het sekere Korintiërs hulle laat doop vir mense wat reeds dood was – moontlik familielede. Hiermee word die waarde van die doop oordryf. Die doop speel nie ‘n rol in die verlossing van die dooies nie. Moontlik was hulle bekommerd oor gelowiges wat gesterf het voordat hulle gedoop is. Hulle sou dan geestelik daardeur verloor.

 

‘n Moeilike gedeelte waarvoor ons geen aanvaarbare verklaring het nie.