1

1 Korintiërs (4)

1 Korintiërs (4) – Francois Malan

 

ʼn Toets vir Paulus se gesag en boodskap (hoofstukke 5-6)

Korinte was ʼn kosmopolitiese handelstad met losse sedes. Met twee hawens, die een aan die Adriatiese see na die Weste en die ander aan die Egeïese see na die Ooste, geleë op die landengte tussen die suidelike Peloponnesus en die Griekse vasteland was daar baie verkeer deur die stad, met reisigers en matrose uit verskeie wêrelddele. Dit was ook die setel van die Romeinse goewerneur van die provinsie Agaje.

In 4:18-20 verwys Paulus na die arrogansie van ‘sommige’ gemeentelede in Korinte, en bevraagteken hy hulle ‘krag’ (4:18-20). In hierdie gedeelte verwys hy na die krag van die Here teenoor die swak optrede van die arrogante gemeente (5:2,4,6). Drie paragrawe handel oor die krisis oor gesag, wat ook in die eerste vier hoofstukke ter sprake is. Die gemeente moet besluit tussen die leiding van die ‘swak’ Paulus se ‘dwase’ evangelie, of die leiers wat hoogmoedig is oor hulle ‘geestelikheid’ en ‘wêreldse’ wysheid; die evangelie of ʼn Korintiese lewenswyse wat in stryd is met die evangelie?

 

1 Ontug kan nie ooglopend toegelaat word nie

Die gemeente is hoogmoedig oor hulle ‘geestelikheid’, maar treur nie oor ʼn lidmaat wat met sy pa se vrou lewe in ʼn ontug wat selfs deur heidene veroordeel word nie. Paulus beveel die gemeente om die man met die mag van Christus uit hulle gemeenskap uit te sit, in die wêreld in, waar hy reeds onder Satan se sondemag lewe, sodat hy tot besinning kan kom en sy lewe gered kan word (5:1-5).

So lank as wat hulle die boosheid in die gemeente verdra, is hulle grootpratery (letterlik: opgeblasenheid) nie gepas nie. Boosheid versprei so maklik en ongemerk soos suurdeeg wat ʼn hele mengsel deeg laat rys. Soos die Jode vir Paasfees al die suurdeeg uit hulle huise verwyder het (Eksodus 12:15), moet die Christelike gemeente die boosheid uit die gemeente verwyder, omdat ons Paaslam reeds aan die kruis gesterf het om ons van al ons sondeskuld te bevry. Daarom moet ons lewe ʼn fees wees, sonder die suurdeeg van ontug en boosheid, met  ongesuurde brood, deur opreg eerlik met mekaar en voor God te lewe (5:6-8).

In Paulus se vorige brief aan die gemeente (wat ons nie meer het nie) het hy geskryf dat die gemeente nie met mense moet omgaan wat onsedelik lewe, of gierigaards en rowers, of afgodedienaars is nie. Omdat ontug die algemene lewenswyse van die Grieks-Romeinse wêreld gekenmerk het, het sommige hoogmoedige lidmate (vgl. 4:18) Paulus verkeerd verstaan en gespot dat hulle dan uit die wêreld sou moes padgee. Daarom verduidelik hy nou dat hy bedoel het dat hulle nie eens saam met iemand moet eet wat ʼn medegelowige genoem word, maar ʼn ontugtige of ʼn gierigaard of ʼn afgodedienaar of ʼn kwaadprater of ʼn dronkaard of ʼn rower is nie. God sal die buitestaanders oordeel. Die gemeente moet egter oor hulle eie lidmate oordeel en die slegte mens uit hulle midde verwyder, soos Deuteronomium sê in 17:7; 19:19; 22:21; 24:7 (5:9-13).

 

2 Onderlinge onreg en hofsake pas nie by gelowiges nie

Om hulle skaam te maak vra Paulus of daar in die gemeente, wat so hoogmoedig is oor hulle eie wysheid, nie eens een is wat wys genoeg is om oor ʼn saak tussen gemeentelede te oordeel nie, want hulle neem medegelowiges hof toe en dit voor heidense Romeinse regters. Waarom ly hulle nie liewers onreg en diefstal nie, en waarom doen hulle nog onreg en besteel selfs medegelowiges? Niemand wat die booshede bedryf, wat in die vorige paragraaf genoem is, sal die koninkryk van God beërwe nie. Christus en sy Gees het juis die gelowiges van hulle sonde kom verlos om hulle van alle onreg te reinig (6:1-11).

 

3 Met hulle verkeerde opvatting van die liggaam regverdig hulle prostitusie

Die valse ‘geestelikes’ het Paulus se opdragte oor ontug weerspreek en ewe hoogmoedig beweer dat hulle vry is om enigiets te doen, en dat die liggaam tog tot niet gaan. Vir die Grieke was die liggaam die tronk van jou siel, waaruit die dood jou bevry.  Daarom kan hulle maar met prostitute gemeenskap hê, want wat hulle met die liggaam maak, raak nie hulle ‘gees’ nie. Paulus sê, volgens die Skrif maak seksuele gemeenskap twee mense tot een liggaam (vgl. Genesis 2:14). Jou liggaam is nie bedoel vir prostitusie nie, maar vir die Here. God het die Here opgewek, en gaan ons ook met sy krag opwek.   Prostitusie is ʼn nuwe slawerny en sonde teen jou eie liggaam, wat deur Christus losgekoop is en nou aan Hom behoort as lid van sy liggaam, ʼn tempel waarin die Heilige Gees woon. Daarom moet hulle wegvlug van seksuele losbandigheid, en God vereer deur hulle liggame rein te hou as sy tempel waarin Hy woon (6:12-20).

Outeur: Dr Francois Malan