1 Korintiërs (8)

1 Korintiërs (8) – Francois Malan

 

Sommige Korintiërs verwerp die opstanding van die liggaam as ‘ongeestelik’ (15:1-58)

Die Grieke het die liggaam as die tronk van jou siel beskou. Party lidmate dink hulle is reeds ‘geestelik’ met ʼn soort engele-bestaan, waarvoor die liggaam nie nodig is nie, en dat die dood hulle van die liggaam verlos. En tog glo hulle en die hele kerk dat Christus uit die dood opgewek is

15:1-11 Die kern van die evangelie wat Paulus verkondig het, wat deur hulle geglo is, en waardeur hulle gered is, is dat Christus vir ons sonde gesterf het, sy lyk begrawe is en Hy uit die dood opgewek is, waarvan ʼn reeks persone, aan wie Hy verskyn het, getuig. Aan Paulus, die geringste van die apostels, het Hy in genade ook verskyn, en deur God se genade glo die Korintiërs in Jesus, wat Paulus aan hulle verkondig het.

15:12-19 As party van hulle nou onverantwoordelik redeneer dat daar geen opstanding van die dooies is nie, is die gevolge van hulle redenering vir hulle eie lewe soos volg: dan is Christus mos ook nie deur God opgewek nie, Paulus se prediking vals, hulle geloof waardeloos, hulle sonde nie vergewe nie, en die wat gesterf het verlore.

15:20-28 Maar God hét vir Christus uit die dood opgewek as die eersteling. Hy is besig om alle magte wat teen God opstaan te oorwin. Deur Christus onderwerp God alles en almal aan Hom. Soos Adam alle mense in die dood laat beland het, so bewerk God se opwekking van Christus uit die dood die opwekking van die ganse mensheid. God sal almal wat aan Christus behoort by sy koms lewendig maak, en die dood, wat God en die mens se laaste vyand is, vernietig. Dan regeer God alleen oor sy ganse skepping, en is die doel van ons lewe om sy wil uit te voer. Die Korintiërs wat nie glo in die opstanding nie, het ʼn verkeerde opvatting van geestelikheid, van die mens se liggaam, en van God as die alleenregeerder oor die hele skepping.

15:29-34 As die dooies egter nie opgewek gaan word nie, is die Korintiërs se eie optrede vir die dooies onsinnig, Paulus se lyding ter wille van die evangelie en sy daaglikse doodsgevaar ter wille van die gemeente sonder enige doel of betekenis, en verval die rede om verantwoordelik te lewe (vgl. Jesaja 22:13). Daarom moet die gemeente hulle afkeer van die mense wat die opstanding loën. Paulus skud die gemeente wakker uit hulle ‘geestelike’ vervoerings en beskamende twyfel aan God se mag om die dooies op wek, om nugter te dink, en hulle sonde te los.

15:35-49 Dit sal egter nie bloot ʼn opwekking van lyke wees nie. Maar soos Christus se fisiese liggaam verander is in ʼn verheerlikte hemelse liggaam, so sal ons liggaam verander word om beelddraers van die opgewekte Christus te wees. Vir die Grieke was die lewendigmaak van lyke ondenkbaar. Maar soos daar ʼn verband is tussen ʼn koringkorrel wat gesaai word en die koringhalm wat daaruit spruit, sal daar ook ʼn verskil wees tussen die swak aardse fisiese liggaam en die kragtige hemelse geestelike liggaam. Die Korintiërs was oortuig dat hulle reeds in die ‘hemelse’ geestelike lewe ingegaan het, deurdat hulle die gawes van die Gees ontvang het, veral die spreek in tale. Hulle verwag die afgooi van die nuttelose liggaam wanneer hulle sterf. Paulus sê, ons sal die hemelse beeld van die opgewekte Christus dra.

15:50-58 Die sterflike liggaam moet eers met onsterflikheid beklee word. Met Christus se koms word mense wat nog lewe en die wat reeds dood is, deur God verander. Dood, en sonde wat juis die dood veroorsaak, verloor permanent hulle mag oor die mens. Die ganse natuur wat die gevolge van die sonde dra, word deur Christus verlos, ook die liggaam. Deur Christus se opstanding is die dood oorwin en die sonde vergewe. Omdat Christus die sonde en die wet reeds oorwin het, is ons lewe nie tevergeefs nie. Daarom moet ons nie toelaat dat iets ons aan die koms van Christus laat twyfel nie, en moet ons onsself ten volle gee aan die werk van die Here (15:35-58).

 

16:1-11 Die kollekte vir die arm gelowiges in Jerusalem

Die gemeente vra hoe die kollekte ingesamel moet word en hoe word dit na Jerusalem geneem. Paulus sê elkeen moet op ʼn weeklikse basis ʼn bydrae opsy sit volgens sy/haar voorspoed. Hy kom na hulle toe. Hulle moet mense aanwys wat die kollekte sal wegbring, en hy kan moontlik saam met hulle gaan. Hoewel Paulus tot dusver nog niks vir sy onderhoud van die gemeente gevra het nie, en hulle hom daarvoor kwalik geneem het, noem hy die moontlikheid dat hulle hom kan help met sy reis na Jerusalem en so deelneem aan sy sending.

 

Outeur: Dr Francois Malan