15 Junie: God se liefde wip nie op en af nie. – Jan van der Watt

Hand 27:1-44 (fokus 27:13-20)

Jy moet nie God se liefde meet aan hoe goed of sleg dit met jou gaan nie.

As ons God se liefde moes meet aan hoe goed of sleg dit met ons gaan, sou Paulus in ernstige moeilikheid gewees het. Hy sou beslis kon getwyfel het of die Here hom hoegenaamd liefhet. Lees maar net Handelinge: as hy in ʼn stad kom gooi hulle hom of in ʼn tronk, of lag hom uit, slaan hom, gooi hom met klippe en as hy op ʼn skip klim, soos hier in hoofstuk 27, sink die skip. Sy lewe was alles behalwe maanskyn en rose.

Interessant genoeg, het Paulus nooit een oomblik aan God se liefde getwyfel nie; nie onder die slae wat val, die klippe wat reën, of die skip wat sink nie. Deur dit alles het hy een ding geweet: God het hom lief!

God se liefde is immers op ʼn ander plek onbetwisbaar bewys… aan die kruis op Golgota. Daar staan dit vas in die geskiedenis ingegrafeer en niemand kan dit ontken nie. As ons mooi dink besef ons hoe slim God se plan was. Dink net hoe onseker sou ons van sy liefde gewees het as ons dit moes meet aan hoe goed of sleg dit met ons gaan: soos ons omstandighede op en af gewip het, sou ons die een dag seker van sy liefde kon wees en die volgende dag weer nie. Nee, God se liefde wip nie so op en af nie.

Moenie God se liefde vir jou aan jou wisselende omstandighede meet nie. Meet dit aan die kruis op Golgota. Daar het God vir jou gewys dat Hy jou innig liefhet.