17 Februarie – Reinheid kom van binne. – Jan van der Watt

Mark 7:1-23 (fokus 7:14-23)

‘Dit is nie wat julle eet en so in julle liggame inneem wat julle onrein maak in God se oë nie. Nee, dit is wat by jou mond uitgaan wat jou vir God onrein maak’ (7:15)

 

Hoogs onsteltd kom ‘n ma eendag kla oor haar dogter wat ‘n spesifieke hangertjie op ‘n vlooimark gekoop het. “Sê nou net dit is satanies”, kla die vrou. “Dan kan die hangertjie dalk my kind in die duiwel se hande indryf sonder dat sy dit eers weet”.

Hoe wonderlik sou dit nie gewees het as hangertjies en sulke dinge tog so gewerk het nie. Dit sou mos beteken dat kruisies om die nek net so moes werk. Dan was dit nie meer nodig om met enigiemand oor God te praat nie. Hang net ‘n kruisie om haar nek en die kruisie ‘dryf die persoon daar en dan in die hande van God in’. Sonder om ‘n woord te sê sou sy dan heilig en rein wees. Maar dit werk nie so nie, dit weet ons almal, al wil party tog so graag hê dit moet met ‘duiwelse hangertjies’ so werk.

Jesus het ons anders geleer. Reinheid kom nie van buite nie, maar van binne, daar diep uit jou hart (7:20-23). Dit is nie wat jy om jou nek hang wat tel nie, maar wat uit jou hart uit kom. As die Here jou hart aanraak, verander dinge – nee, verander jy. As Hy sy hand op jou lewe lê, smelt onreinheid hier binne in jou weg. Slegte gedagtes smelt weg; oneerlikheid smelt weg; woede en wraak smelt weg; ontrou aan jou huweliksmaat smelt weg… en die nuwe, rein jy bly agter. Want, wat weg is is weg. Ja-nee, as daar niks onreins of sleg hier binne in jou is nie, kan daar niks onreins of sleg uit jou binneste kom nie. So eenvoudig is dit.

Immers, wat oorbly is goeie gedagtes, eerlikheid, vriendelikheid, getrouheid… Dit kom uit jou binneste uit, want dit is al wat daar oor is om uit te kom.

Onthou, dit is nie wat buite is nie, maar wat binne is, wat die verskil maak, hangertjie of nie.