17 Mei: Moenie net die helfte van die waarheid raaksien nie. – Jan van der Watt

Hand 1:1-2:13 (fokus 2:5-13)

Wonders sien ʼn mens nie met die blote oog raak nie, maar met die geloofsoog van die hart. Dit is soos die ou wat hulle na ʼn ernstige ongeluk na die ambulans toe wou dra. Die hele tyd wou hy in sy half bedwelmde toestand van die draagbaar afklim en weghardloop. Toe hulle hom later vra wat gebeur het, het hy gesê dat die ongeluk langs ʼn vulstasie was. Al wat hy gesien het was “hell”, want iemand het voor die “S” van die Shell bord gestaan.

Ons sien ook partymaal net die helfte van die werklikheid raak, soos daardie ongelowiges op Pinksterdag – hier was een van die grootste wonders in geskiedenis besig om voor hulle af te speel en hulle dink dit is maar net mense wat dronk is (2:13). Dis hoe ons is. Ons sal vir elke wonder in die lewe ʼn ander verklaring kry, net om nie te erken dat dit n wonder was nie: “Dis toevallig”, “Ek was gelukkig”, of “Ek weet nie mooi wat gebeur het nie, maar…”. Ons weier om die “S” raak te sien en daarom eindig ons waar ons nie wil wees nie… mense wat nooit God se wonders of God self in hulle lewens kan raaksien nie.

Kyk ʼn slag met jou hart na dinge wat rondom jou gebeur. Soek die “S”, oftewel God se teenwoordigheid in jou lewe. Verwag dat Hy jou op wonderlike maniere sal help en verras… en jy sal die wonders in jou lewe begin raaksien.