1

2 Augustus: Die erediens is nie ‘n heilige oorlog nie. – Jan van der Watt

1 Kor 14:20-33 (fokus 14:26-33)

 Daar was al menige geveg in die kerk oor hoe ons die Here moet dien. Party wil net dit sing, ander wil die wet op ‘n sekere manier gelees hê, sommige soek ‘n toga en preekstoel terwyl ander die predikant met ‘n oopnek hemp voor op ‘n verhoog sien, en so kan ons aangaan. En die gevegte kan nogal baie emosioneel word, so asof as dit nie op jou manier gebeur nie, jy nie meer die Here kan dien nie. Die slegste is dat mense dikwels in die gesprekke hulle eie opinies met díe van die Bybel verwar. Dan word die stryd oor wat jy dra en hoe jy sing byna ‘n heilige oorlog.

Die meeste van die gevegte is verspilde energie. Daar is baie maniere om dinge te doen, verduidelik Paulus al van hoofstuk 10 af. ‘n Mens moet dit net op die regte manier doen. Dinge moet mooi en op hulle plek gebeur (14:33), met ander woorde, almal moet darem kan volg wat aangaan en kan deelneem, al is dit nou nie presies soos jy dit wil doen nie. Ons moet mekaar konsidereer en nie in mekaar se pad staan nie (14:39-40).

Paulus is dus hier baie meer bekommerd oor die praktiese manier van dinge doen – dit moet werk, al hou ek nie noodwendig van die manier waarop dit werk nie. Dit moet nie op ‘n deurmekaarspul uitloop waar elkeen doen wat hy of sy wil nie. Ons is immers bymekaar om aan die Here die lof en hulde te bring. Dit gaan nie oor of ons lekkerkry of ons sin kry nie, maar of Hy gelukkig is.

Uiteindelik is daar ‘n paar dinge wat tel: gebeur dinge prakties sinvol; konsidereer ons mekaar; voel die Here goed daaroor. Ons moet dus nie te veel energie mors op dinge wat nie regtig so belangrik vir die Here is nie. Of anders gestel, ons moet nie so baklei oor watter liedjie ons wil sing dat as ons begin sing ons asems uit is nie.