2 Johannes – Lewe in waarheid en liefde (verse 4-6) – Francois Malan

In verse 4-11 kom die praktiese waarde van die brief aan die beurt: verse 4-6 oor die geestelike lewe van die gemeente brei uit op vers 3; in verse 7-11 word gewys na die geestelike gevare wat die gemeente van buite omring en van binne bedreig – soos 1 Jn gewys het op die kontraste tussen waarheid en leuen, liefde en haat.

 

4 Die gewone Griekse brief begin met vreugde oor goeie nuus, ná die naam van die skrywer en die geadresseerders en groete. Die skrywer sê ‘ek was baie bly dat ek van jou kinders gekry het wat in die waarheid wandel…’ – hy het in die onlangse verlede met lede van dié gemeente wat só lewe, kontak gehad. Dit impliseer egter dat daar party van die lidmate is wat nie meer in die waarheid wandel nie, en dat daar ‘n skeuring in die gemeente plaasvind. Volgens v7 glo die ander nie dat Jesus waarlik mens was nie (‘n probleem vir die Griekse wat glo dat die mens se liggaam die tronk van sy siel is). Om in die waarheid te wandel beteken dat die getroues toegewy is aan God se waarheid, wat in Jesus geopenbaar is, en in ons bly (v2), dat God se waarheid in gehoorsaamheid uitgelewe word.

 

‘…soos die gebod wat ons van die Vader ontvang het’ – in 1 Jn 3:23 is gesê: ‘En dit is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê, ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het.’ Dié twee gaan saam: die waarheid wat in Jesus geopenbaar is, en die liefde wat God beveel en in ons lewe bewerk (2 Jn 2). In dié verdeelde gemeente is die menings oor Jesus verdeeld, en liefde ontbreek by sommige van die dwalendes. Die stelling in die eerste deel van die vers dat sommige wandel in die waarheid van God wat in hulle bly, word in die tweede deel van die vers verbind aan die gebod van God, dat ons steeds in die waarheid moet wandel. God gee aan ons die waarheid as sy gawe, en eis dan dat ons volgens sy gawe lewe. As ons die openbaring van God se waarheid ontvang, is ons nie langer vry om te kies of ons dit sal doen of nie. Hoe duideliker die openbaring, hoe groter die verantwoordelikheid om dit te glo en te gehoorsaam (vgl. Amos 3:2). So word vers 5-6 voorberei.

 

5 Die oudste pleit nou by die gemeente (met die simbool ‘dame’ aangespreek) dat ons mekaar steeds sal liefhê. Die ‘nou’ volg op die kontak wat hy reeds in die verlede gehad het met ‘van jou kinders’ (4). Die dringende versoek is nie nuut nie, maar volg op die liefdesgebod wat alle gelowiges van die begin af ken (1 Jn 2:7; 3:11), wat Jesus aan al sy volgelinge gegee het (Joh 13:34; 15:12,17). In die huidige omstandighede van die gemeente word dit weereens beklemtoon. Liefde kan ‘n gebod wees, want dit is nie ‘n blote emosie nie, maar ‘n wilsbesluit, ‘n gehoorsame reaksie op God se eis dat ek myself aan Hom oorgee as die Here wat my lewe beheer. So is ‘bly in die waarheid’ ‘n opdrag tot gehoorsame toewyding aan God se openbaring van Homself in Jesus se optrede. Dit is nie bloot ‘n intuïsie oor wat waarheid is nie. Die eis om mekaar lief te hê, het met die Drie-eenheid te doen: liefde kom van die Vader (1 Jn 4:7), is geopenbaar in die Seun wat sy lewe vir ons afgelê het (1 Jn 3:16), en word aan ons geskenk en in ons gewerk word deur die Gees wat die lewe gee, as God wat in ons bly en ons in Hom (1 Jn 4:13-16). Ons word deel van die liefdeseenheid tussen die Vader en die Seun en die Gees.

6 Die omskrywing van die geestelike lewe van die gemeente word met hierdie vers afgesluit. Die twee groot sake word herhaal: wandel/lewe volgens God se gebooie; wandel/lewe in die liefde. Johannes beklemtoon dat liefde uitgedruk word in gehoorsaamheid. Sonder gehoorsaamheid aan God se gebod is daar geen ware geloof nie en ook geen egte liefde nie. Ons hele lewe moet ingerig word volgens die liefdesgebod.

Die invoeging, dat hulle die liefdesgebod van die begin af gehoor het, herhaal dat dit die fundamentele verpligting is, wat telkens herhaal moet word, en konstant uitgelewe moet word. Hier word dit andermaal onderstreep vir ‘n gemeente wat juis probleme het met die onderlinge liefde van gemeentelede, met afdwaling van die ware geloof in Christus, en die aard van die waarheid as die selfopofferende liefde van Christus verloor.

Skrywer:  Prof Francois Malan