20 September: Dink positief. – Jan van der Watt

Fil 4:2-9 (fokus 4:2-9)

“The power of positive thinking” is die naam van ʼn boek van Norman Vincent Peale. Ek ken die naam goed want as kind het ek baie na die boek gestaar. Dit het in my ouma se boekrak oorkant die radio gestaan waar ons elke middag radiostories geluister het. Ek kon dit nog nie lees nie, want ek en Engels was nog nie vriende nie. Wat ek wel onthou, is dat ek gedink het dat hierdie man darem slim moes wees om so iets uit te dink…

Later sou ek uitvind hy was nie die eerste een om daaroor te praat nie. Paulus het dit al gedoen (3:8-9). Hy het al gesê ons moet aan die mooi en goeie dinge in die lewe dink. Ons moet positief bly. Jy moet negatiewe gedagtes nie eers ‘n kans in jou lewe gee nie, want negatiewe gedagtes is soos ink in water. Jy gooi net ‘n bietjie in en dan kleur dit sommer al die water. Nee, ‘n mens moet positief bly.

Hoe logies was sy argument nie: As ons koppe vol van die mooi dinge is, sal daar mos nie plek vir die lelike dinge wees nie. Boonop, as ek net dink aan dinge wat ordentlik en reg is, sal ek dit mos begin doen ook. Dink mooi, al daai ure wat ons sit en bekommer help dikwels maar min. Maar die oomblikke wat ons spandeer om te dink aan die mooi van die lewe, die goeie eienskappe van my vrou of man, die vreugde van my (soms stout) kinders, die genot van vriende, verlig nie net my siel nie, maar verbly ook my gees!

Ons is nie noodwendig wat ons eet nie, maar beslis wat ons dink. Dink positief…