21 Januarie – Jesus se barometer . – Jan van der Watt

Lees: Mat 16:5-28 (fokus: 16:24-28)

 Daarna het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand my volgeling wil wees, moet hy sy hele lewe vir My gee… Jy moet ’n keuse maak wat jy met jou lewe wil doen. Vra jouself eers die volgende vraag af: wat help dit as jy die hele wêreld se skatte besit, maar jy het nie ’n plek in God se nuwe wêreld nie? Kan enigiets op aarde ooit daarteen opweeg?’ (16:24, 26)

 Jesus waarsku: jy moet gereeld jou skaal uithaal en net weer seker maak: leef jy nog gebalanseerd?

Wat weeg op jou skaal die swaarste? Dit is bietjie van ʼn strikvraag, want die lewe is so gejaag en vol dinge wat alles vir ons belangrik lyk dat keuses moeilik raak. Elke ding is op sy eie manier belangrik. Kyk byvoorbeeld: Wat is belangriker, jou werk of jou gesin? Eintlik altwee, want sonder werk kan jy nie jou gesin onderhou nie en sonder jou gesin maak jou werkery ook nie eintlik veel sin nie. En so loop die meeste dinge wat ons doen inmekaar. Hoe kies jy nou eintlik tussen dinge wat alles tog belangrik is?

Jesus kan jou help (16:24-26), mits jy bereid is om sy barometer te gebruik. Sy barometer meet wat met die mense rondom jou gebeur… as jy mense rondom jou begin seermaak begin die barometer gevaarlik hoog styg. Byvoorbeeld, as jou werk jou so besig begin hou dat jy jou gesin begin verwaarloos, begin mense seerkry… dan moet jy balans begin kry en jou keuses aanpas. Aan die ander kant, as jy jou werk so verwaarloos dat niemand jou ‘n verhoging wil gee nie, is dit ook nie vir jou gesin goed nie. Ja-nee, balans is die antwoord, en balans meet jy deur mooi te kyk wat gebeur met die mense rondom jou, veral die wat die naaste aan jou is. Jy hoef dus nie jou werk of jou gesin of jou vriende te los nie… jy moet net gebalanseerd leef.

En moet asseblief nie van jouself vergeet nie! Jy kan ook seerkry, om die waarheid te sê, jy kan jouself ‘seermaak’ deur van ‘balans af’ te raak. As jy jou innerlike geluk of gesondheid begin opoffer vir uiterlike sukses is die balans in jou lewe nie meer reg nie. Jesus vra soberheid en soek geluk en vrede… in jouself en met ander mense.

Miskien is dit weer tyd vir jou om te vra: Wat weeg op my skaal die swaarste?