21 Mei: Mense lees jou – sorg dat dit goeie nuus is. – Jan van der Watt

Hand 5:12-42 (fokus 5:27-32)

Wat ons glo kom gewoonlik die duidelikste na vore as ‘n krisis ons tref. As dit goed gaan kan almal mooi praat. Maar die werklike toets kom wanneer die lewe ons begin druk en ons begin swaarkry en spartel. Dit is ook dan dat mense fyner begin luister en ons begin “lees”.

Dit is juis in krisisse dat Christene se optrede vir baie ongelowiges die enigste plek word waar hulle ooit sal kan agterkom watter verskil God in mense se lewens kan maak. Hulle sien dit in gelowiges se optrede. En sulke geleenthede moet gelowiges nie laat verbygaan nie. Jy moet jouself gedurig daaraan herinner dat jy as gelowige die enigste “Bybel” mag wees wat baie mense ooit in hulle lewens gaan “lees”. Al wat hulle van God gaan agterkom of weet gaan wees wat hulle in jou lewe sien. Petrus-hulle se optrede en woorde was byvoorbeeld die naaste wat die Joodse Raad ooit aan Jesus se boodskap sou kom (sien byvoorbeeld 5:29-32).

ʼn Goeie Christenvrou het aan kanker gely. Sy het haar hele lewe deur nie ʼn geheim van haar Christenskap gemaak nie. Toe die kanker egter begin vreet, het dit ook aan haar siel begin vreet en merke van opstand en swartgalligheid begin agterlaat… tot iemand eendag vir haar gesê het: “Nou is die tyd dat jy kan wys watter verskil Jesus in jou lewe maak… en almal sal dit kan sien”. Die vrou het van daardie oomblik af verander en baie se lewens geraak deur die innerlike krag wat God vir haar gegee het.

Mense lees jou! Ek hoop hulle lees sommer baie goeie nuus.