21 November: Oppas vir verkeerd bid.– Jan van der Watt

Jak 4:1-12 (fokus 4:1-6)

Wanneer sê God sommer net “nee” as iemand in gebed met Hom praat? Wel, as daardie persoon met verkeerde motiewe bid (3). Dit gebeur wanneer die fokus van God af na jouself toe verskuif. Soos Jakobus sê: “Julle vra goed sodat julle dit soos stout kinders net vir julleself kan hê. Dit gaan net om julleself en om niemand anders nie”.

Gebed is ‘n gesprek met God waar die belange van die mens en God inmekaar vloei – daar gesels hulle saam. Ons moet mooi dink wat dit beteken:

  • Op God se skoot moet eerste dinge eerste kom. Jy kan nie daar met jou sonde kom sit asof daar niks verkeerd is nie. Jy kan nie raas en baklei, die volgende oomblik op jou knieë val, bid, opstaan en dan verder raas en baklei nie. Nee, die basis van gebed is jou verhouding met God. Jy gaan immers op sy skoot sit. As jy vuil daar aankom, is die eerste ding wat nodig is, om eers jouself skoon te maak. Voor enigiets anders gebeur moet jy eers van al jou sonde en vuiligheid ontslae raak. Dan kan jy verder met God praat. Dit is waarvoor sondebelydenis daar is. Eerste dinge moet eerste kom.
  • Gebed is ‘n gesprek – dis jy en God saam. Daar kan jy nie maak asof jou sake en belange die belangrikste is en al die punte op die agenda uitmaak nie. As jy God in die oë kyk, sal jy weet: Hy is die belangrikste. Sy belange staan eerste op die agenda. Daarom sal wat jy vra deur die agenda, ja, deur sy wil bepaal word. So doen gebed meer aan jou as aan God, want dit bring jou gedagtes en wil al hoe meer in pas met God s’n. So sal wat jy vra Hom bly maak en dan word gebed ‘n goeie gesprek. Onthou, dit is ook vir God belangrik dat dit met jou goed gaan. Daarom kan jy maar dinge vir jouself ook vra en oor jou behoeftes ook gesels; maar dan nie om net alles vir jouself te hê nie, maar om God beter te dien. Dis waaroor gebed gaan.

Vra en God sal gee… mits jy reg vra. Anders kry jy dalk ‘n “nee”.