22 Augustus: Die Here antwoord jou gebede…luister net fyn. – Jan van der Watt

2 Kor 12:1-10 (fokus 12:1-10)

 Die Here antwoord altyd gebed. Die probleem is ons hoor Hom nie altyd so duidelik nie. Ons verwar dikwels ons eie wil met God se antwoord. As ons iets vra en dit gebeur nie net soos ons dit gevra het nie, dan dink ons God het nie ons gebed verhoor nie. God hoef egter nie altyd net te antwoord soos ons dit wil hê nie. Hy kan “Nee” sê, of selfs op ‘n manier antwoord wat anders is as wat ons gevra het. Paulus moes ook die les leer.

Paulus het iets gehad wat hom vreeslik gehinder het in sy werk; dit was soos ‘n doring wat hom gesteek het (12:7). As hy net van die ding ontslae kon raak sou hy soveel beter gepreek het. Dit was ‘n regte struikelblok in sy lewe. Daarom gaan vra hy die Here om hom te help: “Vat die ding weg sodat ek beter vir U kan werk”. Dit is nou ‘n billike gebed! Maar hy hoor niks nie. Die hemelse telefoonlyne klink vir hom stil. Toe bid hy weer, maar steeds lyk dit of die ink van die hemelse faksmasjiene klaar is, want weer hoor hy niks. Dit is egter toe hy die derde keer bid dat hy besef: die Here het hom eintlik al die eerste keer geantwoord (12:8). Die Here se goedheid is vir hom genoeg. Juis wanneer hy swak is, skyn die Here se krag soveel helderder deur alles wat hy doen. Daar was dus ‘n goddelike rede vir die doring. Paulus moes nie te veel staatmaak op hoe goed en groot hy as apostel is nie, want netnou staan hy in die pad van God. Dit sou ‘n fout wees, want mense moet hom nie raaksien nie, maar vir God. En die doring het daardie balans reg gehou.

God antwoord gebede, maar nie altyd soos ons wil nie. Hy antwoord hulle soos Hy wil. Ons moet net geestelik sensitief genoeg wees om sy antwoorde duidelik te hoor en bereid wees om dit so te aanvaar.

Die Here antwoord jou gebede… luister net fyn