24 Desember: Die soet en die bitter van die evangelie. – Jan van der Watt

Open 10:1-11:19 (fokus 10:1-11)

Daar is een persoon wat nie sommer ʼn biblioteekkaart sal kry nie, want hy eet boeke: dit is die profeet in 10:9-10. (Esegiël moes dieselfde doen toe hy as profeet aangewys is).

Biblioteke is egter nie in gevaar nie. Die eet van die boek het hier natuurlik ʼn spesiale simboliese boodskap. Toe die profeet dit eet, was dit lekker soet in sy mond. Die sooibrand daarna was egter iets vreesliks. Daarmee sê die Bybel vir ons dat die verkondiging van die Evangelie iets soets en iets bitters aan het. Kyk maar, die soet van die geboorte van die kindjie Jesus moes deur die bitter van die kruis ook loop, sodat ons die goeie nuus kon hoor.

Dit is lekker om die evangelie te verkondig. ʼn Mens voel jy vertel vir mense iets wat hulle lewens kan verander. Dit is mos goeie nuus dat Jesus vir ons gebore is. Tog is die gevolge soms bitter. In hoofstuk 11 lees ons hoe die profete selfs doodgemaak is omdat hulle die boodskap van God gebring het. Net so moes Jesus ook vir sy boodskap sterf.

Ons loop vandag miskien nie meer die gevaar om doodgemaak te word omdat ons mense van God vertel nie. Tog staan die verkondiging van die goeie nuus van God vandag ook nie meer so hoog op die gewildheidsleer nie. Mense kan jou kwalik neem as jy dit doen, as oudmodies beskryf, of selfs so bietjie spot. Afgesien daarvan is dit ook nie altyd so maklik om jou eie skaamte of vrees eenkant toe te skuif nie. Dan bly jy maar stil. Die vrees vir die bitter laat jou die soet misloop. Die bitter moet en mag ons egter nooit ontmoedig nie. Hierdie bitter is hoe dit “proe” om oor die evangelie te praat. Gelukkig is daar die soet ook – ons moet dit net nooit vergeet nie.