27 Februarie – Gee jouself ‘n kans in ‘n krisis – word stil. – Jan van der Watt

Mark 13:1-37 (fokus 13:3-13)

‘Die Heilige Gees sal vir julle op daardie oomblik help om die regte dinge te sê. Dit sal nie julle wees wat praat nie, maar die Heilige Gees.’ (13:11)

 

Mense wat onder druk was en vlieënde vaandels daar uit is, sê dikwels: “Ek weet nie waar dit vandaan gekom het nie, maar op daardie oomblik het ek presies geweet wat om te sê”.  Natuurlik skei ‘n mens meer adrenalien af as jy in ‘n krisis beland en dit maak jou skerper. Maar daar is ook iets anders.

Jesus troos sy mense: as jy in ‘n krisis beland is jy nie alleen nie. Om die waarheid te sê, as gelowige is jy nooit alleen nie. Die Heilige Gees is by jou (13:11). As jy jou geestelike ore en oë oophou sal jy Hom hoor en sien in alledaagse dinge wat rondom jou gebeur. As jou woorde opdroog sal Hy die woorde laat vloei. As jou moed opraak sal die Gees jou moed gee. Daarin lê ons troos.

Maar hoe gebeur dit? Natuurlik is daar nie ‘n resep nie. Die Here laat Hom nie in woorde vasskryf nie. Nee, daar is nie grense aan hoe die Gees ons kan help nie. Ons weet maar net dat die Here ons beloof dat dit so sal wees. Daarom moet ons maar net ons geestelike antennas uithou deur in die stilte van gebed en meditasie op die boodskap van die Gees te wag. Om in hierdie lewe dus regtig ‘skerp’ te wees, moet jy leer om eers stil te wees. Jy moet leer om na die Gees van die Here te luister, soms op maniere wat jy nie verwag nie.

As die krisis jou slaan, gun jouself die kans om stil en kalm te word… en te luister. Dan sal jy ook “hoor wat om te sê”.