29 Oktober: Praat mekaar moed in. – Jan van der Watt

Hebreërs 3:1-19 (fokus 3:7-19)

 Iemand vra eendag vir ‘n ou wat altyd vir ure op sy eie in ‘n hoekie van ‘n koffiewinkeltjie sit wat hy doen. “Ek dink”, sê hy. “Hoekom dink jy so?” vra die ander man. “Omdat ek ‘n probleem het”. “Wat is jou probleem?” vra die ander man weer. “Ek dink te veel”, kom die antwoord. So maak ons baie keer ook. Ons dink en dink oor ons godsdienstige probleme maar praat met niemand daaroor nie…

Deel van Christenwees is om te praat, met mekaar te praat, oor probleme te praat, raad te vra, uitweë te soek uit moeilike situasies. Dit kom nie deur net in jou eie dop gekruip te wees en daar oor alles na te dink nie, maar veral deur met ander te praat. Het jy al agtergekom hoe ‘n gesprek kan verander as iemand op ‘n mooi manier oor die Here begin praat. Nie lank nie, of almal praat daaroor en dan leer ‘n mens ook sommer baie. Nou praat ek natuurlik nie van ‘n situasie waar almal om die vuur staan, rugby luister en bier drink nie. Situasies pas ook maar mos by tipe gesprekke.

Mense bly maar skaam en ongemaklik, veral as dit by dinge van die Here kom. Hulle is bang dit pas nie om oor jou eie pad met die Here te praat nie. Hulle is bang mense dink jy dweep of is skynheilig, want daardie mense ken waarskynlik jou foute ook baie goed. Ons wil nie praat nie en so verloor ons een van die grootste gawes wat die Here vir ons gegee het… ander mense. En onthou, Hy praat dikwels deur ander mense met ons. So verloor ons eintlik sy stem ook.

Hebreërs draai nie hieroor doekies om nie. Ons moet mekaar moed inpraat en help (13). Daarom moet ons geleenthede maak om met mekaar te praat. Dan sal jy agterkom jy is nie die enigste een wat sukkel met sekere dinge in jou lewe nie; net so sal jy kan hoor wat ander gedoen het om probleme op te los, en miskien werk dit ook vir jou.

Moenie jouself in ‘n hoekie vasdink nie; gaan dink en praat saam met ander. Skep vir jou sulke geleenthede. Dit kan jou baie help, want dit is ook die Here se raad vir jou.