3 Johannes – Christelike gasvryheid (vervolg) – Francois Malan

6 In vers 3 het die medegelowiges getuig dat Gajus in die waarheid van God voortlewe. Hier van sy liefde wat hy deur gasvryheid bewys het. Sy liefde het ooreengestem met die geloof wat hy bely. Die getuienis het hulle gelewer voor die hele gemeente waar die oudste bly, en moontlik ook by ander gemeentes. (die woord vir gemeente of kerk ekklesia word hier en in verse 9-10 gebruik; nie in die Evangelie van Johannes of die ander twee Johannese briewe nie; ook nie in Markus of Lukas nie – dikwels in Handelinge, die Pauliniese geskrifte en Openbaring; enkele male in Matteus, Hebreërs en Jakobus).

‘Jy sal goed (iets prysenswaardig) as jy hulle voorthelp op ‘n manier wat God waardig is.’ Die uitdrukking ‘jy sal goed doen’ is dikwels gebruik om ‘asseblief’ uit te druk;  ‘voorthelp’ sluit in om hulle te voorsien van die nodige vir die reis (vgl. Hand 15:3; 1 Kor 16:6,11). ‘Op ‘n manier wat God waardig is.’  (vgl. 1 Ts 2:12Rom 16:1-2).

 

7 ‘want ter wille van die Naam het hulle uitgegaan…’ hieruit blyk dit dat hulle sendelinge is wat verskillende dorpe en gemeentes besoek (die woord uitgegaan ekselthon is ook in 2 Jn 7gebruik vir die misleiers wat uit die gemeente uitgegaan het die wêreld in, om hulle valse leer te gaan verkondig. Hier gaan lidmate uit in die diens van die waarheid).  Hier word na die Naam van Jesus Christus verwys, soos in Hand 5:41; Jn 15:21 (vers7 is die enigste teks in 3 Johannes wat na die Seun van God verwys). Die voorsetsel huper kan ‘ter wille van’ aandui, dat hulle in Christus se diens uitgegaan het; of ‘in verband met,’  dat hulle Christus gaan bekendmaak. Waarskynlik word aan albei die betekenisse gedink.

‘…sonder om iets van die heidene te ontvang.’ Jesus se opdrag aan sy dissipels was om verniet te gee en te dien (Mt 10:8; Paulus het dag en nag gewerk om nie ‘n las op die mense vir wie hy preek, te lê nie (1 Ts 2:9). Die sendelinge van die Romeinse afgode was bekend as ‘bedel monikke.’ Dié sendelinge vir die waarhied wou nie met hulle geassosieer word nie, dat hulle terwille van  hulle lewensonderhoud sou preek nie. Hulle wou die evangelie gratis en vry verkondig, en was afhanklik van die gasvryheid van mense van die waarheid om vir hulle te sorg, volgens Jesus se opdrag aan sy dissipels (Mt 10:11-14, 40).

 

8 Die sendelinge moet versorg word want hulle is medegelowiges wat geëer moet word vir hulle christelike sending (v7) en omdat hulle geen ander voorsiening het nie. Die christelike gemeenskap moet vir hulle doen wat hulle nie vra van die nie-christene/wêreldlinge nie. Die verpligting om vir hulle te sorg kom van die Here van die kerk af, soos in 1 Kor 9:14 uitgespel. Die woord vir help (hupolambanoo) beteken om te help in die voorsiening van wat nodig is, en om op te neem in die gemeente (let op die woordspel: terwyl die sendelinge niks van die heidene aanneem nie – lambanoo – moet die gemeente hulle opneem – hupolambanoo).

‘sodat ons medewerkers van die waarheid kan word.’ Ons gasvryheid sal bewys dat ons saamwerk aan die waarheid, deur ons versorging van die verkondigers in wie Christus na ons toe kom. Dit bewys dat ons self lewe in die waarheid oor Jesus Christus. Hy het ons beveel om mekaar so onselfsugtig lief te hê soos Hy ons liefhet (Jn 13:34).

 

9 ‘Ek het hieroor aan die gemeente geskryf, maar Diotrefes, wat graag die belangrikste onder hulle wil wees, verwelkom/ontvang ons nie.’ Waarskynlik het  die oudste ‘n briefie geskryf aan die gemeente waaraan Gaius ook behoort. Maar Diotrefes het die brief, moontlik met ‘n versoek om van die reisende sendelinge te ontvang (v10), voorgekeer. Die naam Diotrefes beteken ‘deur God opgevoed,’ maar sy arrogante begeerte om altyd eerste te wees

om oor ander te heers, is eintlik ‘n verloëning van sy naam, soos ook weerspieël in sy optrede teenoor die oudste (dit is moontlik dat sy naam eintlik veronderstel dat Zeus hom opgevoed het, as sy ouers nog nie gelowiges was toe hy sy naam gekry het nie).

Hy wil niks te doen te hê met die oudste en die reisende sendelinge wat van die oudste se gemeentes af uitgaan nie. Die werkwoord beteken ook dat hy nie die oudste of sy verteenwoordigers gasvry wou verwelkom en ontvang nie. Dit is duidelik dat hy nie die gesag van die oudste aanvaar nie, maar eiemagtig oor die gemeente regeer. Daarmee bewys hy sy gebrek aan Christus se tipe liefde, en het hy waarskynlik ook besware begin ontwikkel teen die leer oor Christus wat die oudste verkondig. Kolossense 1:18 sê dat Christus die hoof van sy liggaam die kerk is, Hy is die begin (van alles), die eerste wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste (prooteuoon) in alles is.’ Dit het dié man, wat lief is om die eerste (prooteuoon) te wees, nie verstaan of uitgeleef nie.

Skrywer: Prof Francois Malan